SSK erken ons sosiale verantwoordelikheid en beskou ons sosiale verantwoordelikheidsprogram as ‘n langtermynbelegging. Die rasionaal agter die sosiale verantwoordelikheid en betrokkenheid is om beter omstandighede en ‘n beter toekoms in die gemeenskappe van SSK se bedieningsgebied  te skep.

SSK se sosiale verantwoordelikheidsprogramme word ondersteun deur vier pilare (Gemeenskap-, Omgewing-, Markplein- en Werksplekfokus) wat ook nou in verbinding staan met die Swart Ekonomiese Bemagtigingsbeleid (SEB) in Suid-Afrika.  Die doelwit is dus volhoubaarheid en om dit te verseker word al vier pilare in die SSK sosiale verantwoordelikheidsprogram geïntegreer. Ons spreek hulle soos volg aan:

Gemeenskapfokus

Gemeenskap-gebaseerde projekte is die mees sigbare aspekte van SSK se KSV-aktiwiteite. Hierdie projekte is afhanklik van direkte interaksie tussen SSK en die gemeenskap, om sodoende sosiale en ekonomiese lewenskragtigheid in die omgewing te genereer. Ons is betrokke op vyf maniere:

  • Donasies
  • Borgskappe
  • Advertensies
  • Lidmaatskap van instansies
  • Gemeenskapsbetrokkenheid van personeel

Omgewingsfokus

Openbare kommer oor die impak van kommersiële aktiwiteite op die omgewing het aansienlik toegeneem in die afgelope jare. Daar is ‘n groeiende bewustheid van die behoefte om volhoubare ontwikkeling te implementeer.  Omgewing-gebaseerde projekte gaan verder as die wetgewende verpligtinge en fokus daarop om groener ekonomiese groei te bevorder. Die resultate van sulke projekte is kwantifiseerbaar en word gemeet as deel van ‘n ​​strewe na voortdurende verbetering.

Markpleinfokus

Markpleinfokus bestaan uit twee belangrike elemente: SSK se verskaffers en SSK se kliënte.  SSK het ‘n belang om te verseker dat hul verskaffers voldoende betaling en werksomstandighede aan hul werknemers gee, ‘n doeltreffende omgewingsbeleid in plek het en hul sake-aktiwiteite op ‘n deursigtige wyse uitvoer wat in lyn is met goeie korporatiewe gedrag.

Met betrekking tot kliënte, poog SSK om ‘n verantwoordelike verkope- en bemarkingsbeleid te implementeer en om ons personeel op te lei oor hoe om hierdie beleide verantwoordelik aan te wend.  Markpleinfokus help SSK om ‘n korporatiewe kultuur te koester wat waarde heg aan die behoeftes, verwagtinge en diversiteit van ons kliënte.

Werksplekfokus

Werknemers bied die kennis, produktiwiteit, kliëntediens en innovering wat nodig is vir die suksesvolle uitvoering van ons sake-aktiwiteite. Daarom is die voortgesette sukses van SSK afhanklik van die toewyding van sy personeel. Ons poog deurlopend om die behoud en ontwikkeling van ons personeel te bevorder en koester ‘n werkplek-omgewing wat kandidate van die hoogste kaliber lok. Projekte in hierdie fokusgroep handel oor gesondheid en veiligheid, voortdurende vaardigheidsontwikkeling, studiehulp, werk-lewe balans, personeel diversiteit en kulturele bewustheid.

SSK begroot op ‘n jaarlikse basis om fondse beskikbaar te stel vir die implementering van die sosiale verantwoordelikheidsprogram volgens ‘n goedgekeurde proses en sal volgens riglyne toekennings maak.