
SSK-raadslede is almal boere en die landbou lê hulle na aan die hart. Hulle spog met eerstehandse kennis van die bedryf en lei SSK om sukses te verseker vir ons lede se besighede. Hulle stel dit hul prioriteit om te verseker dat die organisasie aan die wense van die lede sowel as die gemeenskap voldoen.
Raad van Direkteure

Dirk van Papendorp
Dirk van Papendorp is die derde geslag Van Papendorp’s op die familieplaas Voorstekop in die Heidelberg distrik. Hy voltooi sy skoolloopbaan in 1982 aan die Hoërskool Heidelberg. Hy verwerf sy BSc. Agric. graad aan die Universiteit Stellenbosch in 1986. Na die voltooiing van sy weermagopleiding behaal hy ook sy Hons. (landbou-ekonomie) aan dieselfde Universiteit. Hy begin hierna boer op die familieplaas waar hy ook verskeie posisies in die georganiseerde landbou beklee onder andere sekretaris van die Heidelberg boerevereniging, lid van die Landelike Raad, voorsitter van die GraanSA kanola bedryfskomitee en bestuurslid vir Streek 27. Dirk is ook nou betrokke by Suurbraak Grain Farmers’ Koöperatief waar hy as mentor en direksielid nou betrokke is by die opheffing van gewillige opkomende graanboere in die Suurbraak gemeenskap. Hy is getroud met Retha en saam is hulle geseënd met vier pragtige dogters wat die plaaslewe in oorvloed saam met hulle geniet.

Schalk Viljoen
Schalk is ‘n boorling van Riviersonderend, waar hy in 1984 gematrikuleer het. Tans is hy woonagtig op die plaas Van der Wattskraal. Na matriek studeer hy aan die Landboukollege Grootfontein wat spesialiseer in skaap en wol as hoofvakke. Hy boer met graan en merinoskape in wisselbou met lusern en medicweidings sedert 1991 in die Stormsvlei en Riviersonderend area. Schalk het die afgelope tien jaar gedien onder meer as hoofbestuurslid van GraanSA, op die direksies van AgriWeskaap en Agrimega, as Trustee van die Wintergraantrust en is verkies tot SSK se direksie in 2012. Hy is getroud met Landi en hulle het twee seuns, Schalk – Willem en Ben. Sy vrye tyd spandeer hy saam met sy familie en speel ook per geleentheid ‘n bietjie gholf. Landbou in die Overberg is sy passie en hy glo daar is geen beter plek om met graan en skape te boer as juis hier aan die Suidpunt van Afrika nie.

Thys Odendaal
Thys het in 1995 by Hoër Landbouskool Oakdale gematrikuleer. In 1998 het hy sy B.Agric. (Admin) Graad by Universiteit van Stellenbosch verwerf, waarna hy hom in die boerdery kom vestig het. Hy boer op die plaas Leeukop in die Protem area saam met sy pa. In 2009 het hy direkteur by SSK geword. Hy is getroud met Cara-Mari en het 2 dogtertjies, Gera & Minette

Marais Pienaar
Marais Pienaar het op Murraysburg grootgeword en daar gematrikuleer in 1985. Na voltooiing van sy Nasionale Diensplig in Bloemfontein, behaal hy die graad B.Agric aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat. Vanaf 1991 is hy in die landbou betrokke. Eers in die veebedryf en sedert 2004 in die sagtevrugtebedryf in die Langkloof. Hy dien as direkteur op die Langkloof Boere Koöperasie van 2005 tot 2007. Van 2007 tot 2013 dien hy as direkteur van Tuinroete Agri. Marais is getroud met Di en hulle het twee dogters, Nerine-Mari en Gemma. Sy stokperdjies is jag, bergfietsry en die buitelewe.

Adriaan Steyn
Adriaan het in 1995 aan die Hoërskool Oakdale op Riversdal gematrikuleer. Daarna het hy die graad B Agric Admin by universiteit Stellenbosch verwerf. Adriaan is tydelik as Direkteurslid aangestel in Augustus 2008 waarna hy in 2009 permanent deel geword het van SSK se direksie. Hy is ook direkteur by Soill. Hy het eers in Noord- Amerika gaan werk voordat hy begin boer het saam met sy Pa (Dirkie) in 2001. Hy bly op die plaas Wankie in Heidelberg distrik. Hy en sy vrou Letetia het drie seuns. Die boerdery bestaan 100% uit kontantgewasse. Bewaringsboerdery is sy passie.

Thys Streicher
Thys matrikuleer in 1999 by Hoërskool Swellendam. Daarna voltooi hy ’n Landboubestuurskursus op Saasveld, George. Hy begin in 2003 saam met sy pa boer in ‘n gemengde boerdery naby Swellendam en fokus tans op die graan‐ en skaapvertakking op die plaas.

Johannes Joubert
Johannes het grootgeword op hulle pa Geoffrey se plaas buite Riversdal. In 1988 matrikuleer hy aan die Hoër landbou skool Oakdale. Waarna hy in 1989 begin hy met sy nasionale diensplig en word ‘n J.L. Instrukteur. Daarna is hy na Die Universiteit van Stellenbosch waar hy in ‘n landbou bestuurs rigting studeer en in 1993 begin hy saam met sy pa boer. Hy en sy broer Geoffrey boer tans saam met graan en skape. In 2011 brei hulle hul boerdery belange uit na Heidelberg se vlakte. Johannes is tans die voorsitter van die direksie van Hessequa Abbitoir by Riversdal, asook n mede-eienaar. Hy is getroud met sy vrou Rika, ‘n kranige Saalperd-entoesias. Hul twee dogters, Anja en Korine, deel hulle ma se liefde vir die perde, terwyl Johannes sy bergfiets verkies

Hampie Lourens
Hampie het grootgeword net buite Swellendam op hul familieplaas, Mopama. Hy matrikuleer aan Hoërskool Swellendam in 1990, waar hy ook as Hoofseun dien. Hy verwerf hierna die grade B.Comm, B.Comm (Hons), asook M.Comm (Vervoer Ekonomie) aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy ondergaan opleiding by HES-ISER (School of International Economics, Rotterdam, Nederland) asook Bidvest se Uitvoerende Bestuursopleiding by Wits Besigheidskool.
In 2018 keer hy en sy gesin terug na Swellendam en Lourens Broers Boerdery toe. Hy was voor dit vir 20 jaar werksaam in die korporatiewe sektor, onder andere by Bidvest SABT (South African Bulk Terminals), waar hy van 2010 tot 2018 Besturende Direkteur was. Die grootste gedeelte van sy ervaring is opgedoen in bestuursposisies by maatskappye met noue betrokkenheid in die landbou sektor. Hier kry hy blootstelling aan hoëvlak strategiese besluitneming met industrie leiers in die Suid-Afrikaanse en internasionale besigheidswêreld.

Jonathan Barry
Jonathan het grootgeword op hul familieplaas, Lismore, buite Suurbraak in die Swellendam distrik, en matrikuleer in 2000 te Hoërskool Swellendam. Hy studeer aan Prestige College waar hy MSCE, MSCD asook Network Integration en Systems Technology kwalifikasies behaal. Gedurende hierdie tyd dien hy op die Studenteraad, asook as Primarius van sy koshuis. Na afloop van sy studies gaan werk hy in Engeland as Dosent in Inligtingstegnologie. Hy keer in 2007 terug na Suid-Afrika en boer sedertien voltyds op die familieplaas.
Jonathan dien as Voorsitter van die Suid-Kaap Jersey-klub vanaf 2009 tot 2011, waar hul gedurende hierdie tyd die suksesvolle Suid-Kaap Kudde Kompetisie loods, wat steeds vandag gewild is. In 2015 word hy verkies tot die Wes-Kaapse Bestuur van die Melk Produsente Organisasie (MPO), ‘n posisie wat hy vandag steeds beklee. Hy word verder verkies as Direkteur van Mooivallei Suiwel gedurende 2019. Hy is ‘n suiwelboer in hart en siel. Hy is getroud met Mariëtte en het 3 kinders.

John Robertson
John matrikuleer in 1970 op Rondebosch Boys High School , Kaapstad. Hy verwerf in 1974 sy B.Sc Landbou (Landbou-ekonomie) graad en daarna in 1977 sy Hons.B.Sc Landbou (Landbou-ekonomie) beide op Stellenbosch Universiteit. Hy raak dan werksaam by die Buro vir Ekonomiese Ondersoek aan Stellenbosch Universiteit van 1975 tot 1977. Hy begin boer op Klein Brakrivier (Mosselbaai distrik) in 1978 . Boer vanaf 1978 tot 1996 met hoofsaaklik groente, skaap en koring. Vanaf 1997 verander hy van industrie en begin hoofsaaklik met melk en vleisbeeste boer. Hy dien dan ook op verskeie direksies van verskeie landbou ondernemings en institute, insluitend die uitvoerende raad van Agri Wes-Kaap en Agri-SA. Hy is getroud met Marianthe en hulle het 3 kinders, ‘n dogter en twee seuns. Hy het ‘n swakheid vir reis en lees , en ‘n belangstelling in geskiedenis en Engelse letterkunde.

Piet Sands Uys
Piet het in 1974 aan die Hoërskool Jan van Riebeeck te Kaapstad gematrikuleer, waarna hy sy militêre opleiding in die polisiediens in 1976 voltooi het. Hy gaan daarna na die Universiteit van Stellenbosch en behaal in 1980 die graad B. Econ met Ekonomie, Bedryfsekonomie en Bedryfsielkunde as hoofvakke. Hy begin in 1981 saam met sy vader, Pietie Uys en vanaf 1982 ook saam met sy broer, P.K. Uys op die plase Sandfontein en Meerlust, boer. Die familie se voorsate het hulle alreeds in 1876 op die grond gevestig en Piet is nou die vyfde Uys-geslag wat op Sandfontein boer. Piet trou in 1983 met Janet Myburgh, ‘n meisie van Carnarvon en hulle het drie seuns – Pietman, John en Loutjie- en ‘n dogter, McLeisch. Pietman boer nou saam met Piet op Sandfontein met graan, merino skape, vleisbeeste en volstruise. Piet dien sedert 1992 op SSK se direksie en later ook op van SSK se filiale se direksies