Hiermee die maandelikse oorsig van die SSK se Veekundige, Henk Schuurman.

Veekundige Oorsig:

Proteïen is een van die duurder komponente van vee voer, en ‘n uiters belangrike komponent in terme van die invloed wat dit op diere produksie het. Gekonsentreerde proteïen bronne het die afgelope paar maande ‘n skerp styging in prys ervaar, wat boere en veevoervervaardigers gedwing het om alternatiewe proteïen bronne te oorweeg of om proteïen voeding aan hul vee hernude aandag te gee. In hierdie skryf stuk wil ek dus graag ‘n paar basiese konsepte rondom proteïen voeding bespreek, met ‘n fokus op die vergelyking van ‘n paar proteïen bronne wat algemeen in herkouer voeding gebruik word in ons area.

Proteïen Voeding en Proteïen Bronne vir Herkouers

Proteïene is komplekse molekules wat saamgestel is uit aminosure. Die korrekte voeding van proteïene is noodsaaklik vir optimale en ekonomiese diere produksie, aangesien proteïen benodig word vir alle aspekte van die dier se oorlewing en produksie, en ook een van die duurder komponente van die dier se rantsoen is om te verskaf.

Proteïen is noodsaaklik vir:

  • Onderhoud – Alle prosesse wat homeostase in die dier onderhou benodig proteïne (ensieme) en is dus noodsaaklik vir oorlewing.
  • Groei – Die vorming van nuwe weefsel benodig groot hoeveelhede proteïen.
  • Reproduksie – Vorming van eierselle en spermselle benodig proteïen, groei van die fetus ens.
  • Laktasie – Melk produserende weefsel benodig proteïen om melk te vorm.
  • Gesondheid – Vorming van nuwe witbloedselle ens. benodig proteïen.

Wanneer dit by die proteïen voeding van herkouers kom, is die volgende terme van belang:

  • Ru-Proteïen – Al die proteïen teenwoordig in ‘n voer, word bereken deur die stikstof inhoud met 6.25 te vermenigvuldig (RP = N x 6.25).
  • Rumen Degradeerbare Proteïen (RDP) – Die komponent van ru-proteïen wat in die rumen afgebreek word en peptiede, aminosure en stikstof verskaf vir vorming van mikrobiese proteïen.
  • Rumen Nie-Degradeerbare Proteïen (RUP) – Die komponent van ru-proteïen wat degradering in die rumen vryspring, en in die dunderm benut kan word. Dit is ook algemeen as deurvloei proteïen bekend.
  • Nie Proteïen Stikstof (NPN) – Gewoonlik nukleïen sure en ammoniak en word gereeld deur die gebruik van ureum in herkouer rantsoene verskaf. Goedkoper as ander proteïen bronne, maar verskaf net RDP en kan gevaarlik wees indien onoordeelkundig gebruik word.
  • Ware Proteïen – Proteïen saamgestel uit aminosure (teenoor NPN wat nie aminosure bevat nie). Proteïen afkomstig van oliekoeke is dus ware proteïen.
  • Mikrobiese Proteïen (MP) – Die belangrikste bron van proteïen vir die herkouer, vorm in die rumen deur die groei en afsterwing van die mikrobiese populasie.
  • Endogene Proteïen (EP) – Proteïen in speeksel, ander sekresies en afgestorwe epiteel selle.
  • Metaboliseerbare Proteïen – Alle proteïen deur die dier geabsorbeer (RDP + RUP + MP + EP)

Bron: https://extension.oregonstate.edu/animals-livestock/beef/protein-nutrition-cattle-0

Deurvloei Proteïen (Rumen Nie-Degradeerbare Proteïen)

Die teenwoordigheid van ‘n rumen, waar mikrobiese vertering van voer plaasvind, maak herkouers uniek, en stel hulle in staat om voer te benut wat nie deur enkelmaag diere benut kon word nie. Proteïen bronne word afgebreek in die rumen deur die rumen mikrobiese populasie en word gebruik vir hul groei en vermeerdering. Dit is die rumen mikrobes wat die grootste gedeelte van die dier se proteïen behoeftes verskaf wanneer hulle afsterf na hul lewensiklus voltooi is.

Die hele proteïen komponent van voer word egter nie afgebreek in die rumen nie; ‘n gedeelte spring mikrobiese vertering in die rumen vry en gaan direk deur na die dunderm waar dit deur die dier opgeneem kan word. Hierdie gedeelte staan bekend as deurvloei proteïen. Deurvloei proteïen is veral belangrik om in ag te neem by hoogs produserende diere, soos melkkoeie in piek produksie, lakterende ooie en groeiende diere, omdat hierdie diere se behoefte aan proteïen die mikrobiese populasie se vermoë om proteïen te verskaf oorskry.

Deurvloei proteïen is ook ‘n baie duur komponent van voer, en wanneer proteïen bronne met mekaar vergelyk word is dit die moeite werd om dit in ag te neem.

Ureum

Ureum is ‘n bron van nie-proteïen stikstof (NPN) wat deur herkouers benut kan word. Ureum word afgebreek na ammoniak (NH₃) in die rumen, en ammoniak word weer deur die rumen mikrobiese populasie benut vir die vorming van mikrobiese proteïen vir hul groei en vermeerdering. Ureum moet egter baie oordeelkundig benut word as proteïen bron vir herkouers, want ‘n oormaat ureum kan tot vergiftiging van die dier lei. Ureum is egter goedkoop en kan in sekere diere rantsoene tot groot kostebesparings lei indien oliekoek pryse hoog is.

Proteïen Bron Vergelyking

Tabel 1: Vergelyking tussen algemene proteïen bronne se RP, RUP en RDP

Proteien Bron RP g/kg RUP g/kg RDP g/kg % RUP
Soya Oliekoek 470 141 329 30.0
Kanola Oliekoek 350 128 222 36.6
Mieliekiem Oliekoek 200 90 110 45.0
Katoen Oliekoek 370 180 210 48.6
Sonneblom Oliekoek 360 95 265 26.4
Lusern Hooi 180 55 125 30.6
Ureum 2870 0 2870 0.0
Vismeel 630 384 246 61.0

Let wel daar kan baie variasie in proteïen bronne se voedingswaarde wees, waardes in die tabel kan dus verskil.

Soos reeds gemeld is die voeding van diere baie kompleks. Die begrip deurvloei proteïen kan misleidend wees, want dit verwys net na die proteïen fraksie wat nie in die rumen verteer word nie, maar sê niks van die kwaliteit daarvan nie. RUP kwaliteit word deur aminosuur samestelling bepaal, en wanneer dit in ag geneem word kan proteïen bronne se RUP kwaliteit naastenby as volg ingedeel word:

Vismeel > Kanola > Soja > Katoen > Sonneblom + Mieliekiem > Lusern

Oorvoeding van Proteïen

Die voeding van proteïen is kompleks, en kan nie net op ‘n “hoe meer, hoe beter” grondslag plaasvind nie, want behalwe vir die koste impak wat die oorvoeding van duur proteïen bronne het, is daar verskeie negatiewe effekte op gesondheid, produksie en reproduksie wat in ag geneem moet word. ‘n Oormaat proteïen moet uiteraard weer uitgeskei word (in die vorm van ureum in die uriene), en die proses vind teen ‘n energie koste plaas. Daar is ook navorsing wat toon dat die oorvoeding van proteïen lei tot verswakte reproduksie in herkouers, as gevolg veranderings wat dit in die reproduksie stelsel omgewing veroorsaak (pH).

Slot

Met die skerp styging in proteïen bronne wat vir veevoer beskikbaar is se pryse in die afgelope paar maande, is dit die moeite werd om weer die beskikbare bronne met mekaar te vergelyk, en die proteïen voeding van diere hernude aandag te gee.