Hiermee die maandelikse oorsig van SSK se Veekundige, Henk Schuurman.

Veekundige Oorsig:

Die verskaffing van koel, skoon drinkwater is een van die basiese en belangrikste dinge wat die veeboer moet doen vir die optimale gesondheid en produksie van sy vee, maar tog een van die dinge wat baie gereeld nie aandag geniet op die plaas nie. In hierdie inligtingstuk sal ek kortliks die belangrikheid van kwaliteit water verskaffing en ‘n paar basiese eienskappe van vee se drinkwater bespreek.

Water Kwaliteit vir Herkouers:

Water is noodsaaklik vir die oorlewing van alle lewende organismes, insluitend herkouers soos skape en beeste. Dit is noodsaaklik as medium waarin ensieme hul aksies kan verrig, vir temperatuur regulering van die dier deur verdamping (sweet en hyg), in die rumen as oorlewings medium vir rumen mikro-organismes en menigte ander funksies wat dit in die herkouer verrig. Verder is water inname direk gekorreleer met droë materiaal inname by herkouers, en dus ook direk gekoppel aan die produksie prestasie van herkouers. Tog kry die verskaffing van skoon, goeie kwaliteit drink water teen die regte temperatuur min aandag op baie plase waar met vee geboer word.

Water kwaliteit word bepaal deur na die volgende eienskappe te kyk:

  • Smaak en reuk
  • Fisiese en chemiese eienskappe (temperatuur, ph, southeid ens.)
  • Toksiese eienskappe
  • Konsentrasie en balans van minerale
  • Mikrobiese eienskappe

Toegang tot water is uiteraard ook van kardinale belang, en spasie by waterbakke, spasiëring van waterbakke, water vloeitempo ens. is faktore wat die veeboer ingedagte moet hou wanneer hy watervoorsiening aan sy vee beplan.

Eienskappe van Water:

Temperatuur

Diere se drinkwater moet so koel as moontlik wees waar dit aan diere voorsien word. Warm water (bo 27⁰C) sal ‘n afname in water inname veroorsaak, en kan dus ook droë materiaal inname onderdruk, met ‘n gevolglike afname in produksie.

pH van drinkwater is geskik vir herkouers as dit tussen 5.1 en 9 val. Wanneer drinkwater se pH abnormaal laag is, sal diere probleme geassosieer met suurpens ervaar (laer bottervet, verlaagde produksie prestasie, laer droë materiaal inname (DMI)). Uitermatige hoë pH sal weer probleme geassosieer met alkalose veroorsaak (soortgelyk aan suurpens) en ook inmeng by die werking van buffers.

Soutgehalte

Soutgehalte van water is die som totaal van al die opgeloste anorganiese minerale in die water en kan indirek bepaal word deur Totale Opgeloste Vaste stowwe (Total Dissolved Solids) te meet. Dit moet ideaal onder 1000mg/L vir beeste wees. Vlakke van tot 3000mg/L is steeds aanvaarbaar, maar bo hierdie vlakke kan slegte smake voorkom wat water inname verlaag.

Nitraat en Nitriet Stikstof

Herkouers kan die nitraat in water benut as ‘n bron van stikstof vir die rumen mikrobiese populasie, maar die omskakeling van nitraat na nitriet kan ook plaasvind. Nitriet verlaag die suurstof dra vermoë van bloed en is skadelik vir diere tot so mate dat dit tot die dood kan lei weens suurstof tekort. Matige vergiftiging kan verskeie probleme veroorsaak soos swak groei, onvrugbaarheid, aborsies en vitamien A tekorte. Wanneer nitriet vergiftiging vermoed word moet die totale rantsoen van die diere evalueer word vir nitrate, omrede die nitraat inhoud van beide die water en voer ingeneem bydra tot totale nitraat inname.

Nitraat (NO₃) vlakke van meer as 133 tot 220 dele per miljoen word as potensieel skadelik beskou wanneer diere dit oor lang tydperke inneem, veral as daar hoë vlakke in die res van die rantsoen teenwoordig is.

Toksiese Eienskappe

Verskeie ander minerale kan in skadelike konsentrasies teenwoordig wees in water (Aluminium, Arseen, Boor, Koper, Mangaan ens.).

“Coliform” Bakteria en E. Coli

“Coliform” bakteria is teenwoordig in alle oppervlak water, maar daar is min aanduidings dat teenwoordigheid daarvan ‘n nadelige effek op koei of trop gesondheid het. Daar kan baie variasie in bakteria vlakke tussen areas waar monsters geneem word wees, en indien daar ‘n duidelike toename in bakteria telling is wanneer die water by die oorsprong (dam, tenk) vergelyk word met water in die diere se bakke, kan beter skoonmaak prosedures oorweeg word.

E. Coli kontaminasie moet in ‘n meer ernstige lig gesien word, aangesien kontaminasie plaasvind deur direkte blootstelling aan menslike of dierlike feses.

Blou-groen Alge

Water wat lank stil staan, nutriënt ryk en warm is kan lei tot die kondisies gunstig vir die vinnige vermeerdering van Blou-groen Alge (“Cyanobacteria”). Blou-groen alge kan toksiene vrystel wat diere siek maak of selfs tot die dood van die dier kan lei. Water wat met Blou-groen alge besmet is sal septiese, muwwerige reuk hê, maar ook hoog wees in soutgehalte, Stikstof en Fosfor.

Water Inname

Die volgende tabel toon die voorgestelde water inname van verskillende diere. Let wel hierdie data is net ‘n indikator, en daar is baie faktore wat inname kan beïnvloed, soos bv. omgewings temperatuur, produksie status en lewendige massa van die dier.

Tabel 1: Skoon Drinkwater Behoefte van Verskillende Diere:

Class of livestock Requirement
(L/animal/day)
CATTLE
Cow
Bull
Dairy cow
Yearling
Calf
.
40 to 50
45 to 55
5 per L of milk
25 to 40
15 to 25
SHEEP
Dry ewe
Ewe with lamb
Ram
Lamb
.
8
11
11
2 to 4
PIGS
Dry sow
Lactating sow
Boar
Baconer
Piglet (4 to 5 weeks)
.
5 to 9
18 to 23
9
5 to 9
4 to 5
POULTRY
Layers
Broilers
Pullets
Chicks
– up to 2 weeks
– after 2 weeks
L/100 birds/day
20 to 40
10 to 15
15 to 20
.
8 to 11
8 to 11

Bron: https://www.kzndard.gov.za/images/Documents/RESOURCE_CENTRE/GUIDELINE_DOCUMENTS/PRODUCTION_GUIDELINES/Beef_Production/Water%20Requirements%20of%20Livestock.pdf

Slot:

Die verskaffing van genoeg, goeie kwaliteit water is ‘n belangrike vereiste vir die optimale produksie prestasie van herkouers, maar iets wat op baie plase nie die aandag geniet wat dit verdien nie. Met hierdie stuk wil ek u graag motiveer om die water verskaffing vir die diere op u plaas na te gaan, selfs al is dit net om seker te maak alle sisteme werk steeds soos dit oorspronklik beplan is.