Veekundige Oorsig:

Met ‘n uitdagende, maar ook insiggewende, 2020 wat tot ‘n einde gekom het betree ons 2021 met nuwe moed en energie. Ek hoop van harte alle SSK lede het ‘n gelukkige, maar ook veilige, fees seisoen agter die rug. Hierdie maand gaan ek net ‘n kort inligtingstuk, wat die belangrikheid van energie in die voeding van herkouers bespreek, aan u verskaf.

Energie Beginsels: Herkouers

Energie inhoud is een van die belangrikste faktore wat in ag geneem moet word met diere voeding, of dit nou herkouers of enkelmaag diere is. Tekorte in energie tydens voeding het direkte negatiewe effekte op produktiewe en reproduktiewe eienskappe van diere, en dus ‘n groot effek op die effektiwiteit en winsgewendheid van ‘n spesifieke voer vir die doel waarvoor dit aangewend word.

Die basiese komponente waaruit alle voer bestaan is koolhidrate, vette, proteïene, minerale, vitamine ens. Koolhidrate, vette en olies, suikers en vesel is die hoof energie bronne vir die dier, maar ander komponente soos proteïen kan ook energie verskaf indien die situasie dit vereis.

Die energie wat ‘n dier inneem word vir verskeie uiters belangrike doeleindes benut, of dit nou basiese lewens onderhoudende prosesse soos asemhaling, vertering of uitskei van afvalstowwe is, of faktore wat die boer se sak direk raak soos groei en reproduksie. Die energie wat ‘n dier inneem word dus voedingskundig soos volg opgedeel:

  • Bruto Energie (Gross Energy) Die totale energie wat deur die dier ingeneem word.
  • Verteerbare Energie (Digestible Energy) Herkouers is ongelukkig nie in staat om 100% van die energie in hul voer te verteer nie. ‘n Gedeelte van die energie bly onverteer en word deur die feses uitgeskei. Verteerbare energie is dus die bruto energie ingeneem, minus die energie wat verlore gaan in die feses.
  • Metabliseerbare Energie (Metabolisable Energy) Bo en behalwe vir energie wat verlore gaan in die feses, word daar ook energie verloor deur die uitskeiding van urine en metaan gas. Die energie wat oorbly word dus alles gemetaboliseer (benut deur die dier). Metaboliseerbare energie is dus verteerbare energie minus die energie verlore in uriene en metaan gas.
  • Netto Energie (Net Energy) Hierdie energie is wat die dier benut om te groei, produseer en reproduseer. Gedurende hierdie prosesse word hitte gegenereer en gaan verlore in die atmosfeer (liggaams hitte). Netto Energie is dus metaboliseerbare energie minus die hitte energie wat verlore gaan.

Balanseer Energie Bronne:

Wanbalanse kan tydens formulering van voere voorkom wanneer ‘n balans van energie bronne nie bewerkstellig word nie, en eerder net op totale energie inhoud gefokus word. Daar is byvoorbeeld maksimum vlakke vet en olies, of stysel wat in spesifieke diere se rantsoene ingesluit mag word, en wanneer hierdie vlakke oorskry word, sal dit nadelig wees vir die dier itv gesondheid en produksie, asook die produsent se sak. ‘n Goed gebalanseerde rantsoen sal dus hierdie beperkinge in ag neem en ‘n mengsel van energie bronne insluit om die regte totale energie inhoud te bereik.

Energie Eenheid:

Daar is verskeie eenhede wat oor die wêreld gebruik word om die energie inhoud van bestanddele uit te druk. Oor die algemeen, en ook in die SSK streek, word Metaboliseerbare Energie (ME) uitgedruk in megajoules per kilogram (MJ/kg) en Totale Verteerbare Vastestowwe (TVV) uitgedruk in gram per kilogram (g/kg) of as persentasie (%) die meeste in die praktyk gebruik. ME en TVV is ook naastenby van mekaar afleibaar deur ‘n faktor van 66.1 te gebruik:

ME (MJ/kg) = TVV (g/kg) / 66.1

Uitgesoekte Voer Bestandele: Vergelyking in Energie:

Die volgende tabel toon uitgesoekte voer bestanddele wat produsente in die SSK streek mag teëkom, met hul energie inhoud i.t.v. bruto energie en metaboliseerbare energie, asook faktore wat die energie inhoud veroorsaak.

Tabel 1: Voer bestandele se energie inhoud, en faktore wat dit beïnvloed:

Bestandeel Bruto Energie (MJ/kg) ME (MJ/kg) Stysel (%) Vet (%) Suiker (%) Vesel (%) Proteien (%)
Mielies 18.7 13.6 73.4 4.3 2.1 2.5 9.4
Gars 18.4 12.4 59.7 2 2.8 5.2 11.4
Koring 18.2 13.1 69.1 1.7 3.2 2.6 12.6
Hawer 19.5 12.2 40.6 5.4 1.6 13.9 11
Mielie Kuilvoer 18.8 10.8 29.1 2.8 0.2 20.2 6.9
Hawer Kuilvoer 17.6 8.7 9.7 5.8 32.4 9.5
Lusern Hooi 18.2 8.4 2.1 28.9 18.2
Gars Strooi 18.2 6.5 1.4 40.5 3.8

(Bron: https://www.feedipedia.org/)

Slot:

Energie is een van die belangrikste faktore wat in ag geneem moet word tydens die voer van diere, en het ‘n groot effek op faktore van diere produksie wat die boer se sak direk raak. Korrekte rantsoen formulering i.t.v. hoeveelheid energie, asook die samestelling van energie bronne, is noodsaaklik vir effektiewe diere produksie. Ek hoop hierdie skryf stuk stel u in staat om die konsep beter te verstaan wanneer u dit weer in die praktyk raakloop.