Veekundige Oorsig:

Hierdie maand sal ek hitte stres se effek op herkouers bespreek, asook metodes wat die veeboer kan aanwend om hitte stres te bestuur.

Hitte Stres by Herkouers:

Die produktiwiteit van plaasdiere is gewoonlik gemaksimeer binne ‘n nou band van omgewings omstandighede. Wanneer omstandighede buite hierdie nou band beweeg veroorsaak dit vir die dier stres en moet die dier kompenseer om die effekte daarvan te minimaliseer. Temperatuur is ‘n omgewings element wat beduidende effekte op diere produksie kan hê, en in die SSK streek is dit gewoonlik hoë temperature in die somer maande (hitte stres) wat ‘n probleem kan wees.

Hitte stres is ‘n groot faktor in verswakte produksie prestasie van herkouers gedurende die warm maande van die jaar. Gedurende hierdie tye van oormatige omgewings hitte word voeding, bestuur en genetiese pogings om produksie te verbeter gemarginaliseer soos die dier se metabolisme verander om liggaamstemperatuur te beheer.

Hitte bronne wat vee affekteer is hoofsaaklik bestraling deur die son en verhoogde lugtemperatuur in hul omgewing. Hierdie faktore se effekte kan verder gekompliseer word deur hoë relatiewe humiditeit en min lug beweging.

Beeste, veral melkbeeste (25% melkproduksie verlies teen 32-38⁰c) is meer geneig tot hitte stres as skape, maar die konsepte vir die bestuur daarvan is op albei van toepassing, en so ook die meeste ander herkouers en enkel-maag diere.

Die temperatuur-humiditeit indeks kan gebruik word om diere se risiko vir hitte stres op ‘n spesifieke dag te bepaal:

Temperatuur-humiditeit indeks: Melkbeeste begin hitte stres bo 72 ervaar, en ‘n drastiese verlies aan melk sal bo 78 plaasvind (bron: https://kestrelmeters.com/blogs/news/thitemperature- humidity-index-cows).

Op die grafiek hierbo word ‘n temperatuur-humiditeit indeks waarde van 72 waargeneem by ‘n temperatuur van 26⁰C en humiditeit van 40%.

Die temperatuur-humiditeit indeks neem egter nie radiasie van die son of lug beweging in ag nie; faktore wat in gereken moet word wanneer besluite rondom die bestuur van hitte stres gemaak word.

Aanpassings in diere voeding kan van die negatiewe effekte van hitte stres help verlig, maar sulke aanpassings se effekte is klein wanneer dit vergelyk word met aanpassings in omgewing faktore (skaduwee verskaffing, water verskaffing ens).

Metaboliese response:

Verswakte produksie van herkouers wat hitte stres ervaar is tradisioneel toegeskryf aan verlaagde nutriënt inname; ‘n biologiese respons wat deur alle diere getoon word wanneer hul aan omgewings temperature buite hul gemaksone blootgestel word. Navorsing toon egter toenemend dat herkouers wat onder hitte stres verkeer ook metaboliese veranderings ondergaan wat produksie beïnvloed, onafhanklik van nutriënt inname.

Koolhidraat, vet en proteïen metabolisme verander wanneer diere onder hitte stres is, en word gekenmerk deur ‘n her-prioritisering van “brandstof” wat die dier benut, en dit is hierdie verandering wat grotendeels verantwoordelik is vir verlaagde produktiwiteit onder herkouers wat hitte stres ervaar.

Tekens van hitte stres:

  • Vrywillige voer inname daal en diere vreet meer in koeler tye van die dag.
  • Diere vergader onder skaduwee of rondom water krippe.
  • Groot persentasie diere haal abnormaal vinnig asem.
  • Diere sweet en produseer oormaat speeksel.
  • Diere se koördinasie kan beïnvloed word en hulle bewe.
  • Toename in water inname.
  • Skape onder hitte stres is geneig om op te blaas.

Bestuur hitte stres:

  • Skaduwee en genoeg skoon, koel water is twee van die boer se beste bestuur middele teen hitte stres.
  • Skaduwee kan deur bome, tydelike strukture of permanente strukture verskaf word. Daar moet genoeg skaduwee verskaf word vir die diere in ‘n spesifieke kamp.
  • Water moet verkieslik in skaduwee verskaf word, en ongeveer 1 water krip per 20 beeste indien moontlik. Diere moet nie te ver na water krippe moet loop nie, veral wanneer omgewings temperature hoog is en wanneer diere teen steil hellings loop.

Ander wenke:

  • Vir diere in behuising kan waaiers gebruik word vir lug beweging.
  • Poog om melkbeeste so kort as moontlik saamgedrom te laat staan voor hul gemelk word. Waaiers en water sproeiers kan ook hier benut word. Sproeiers moet nie te fyn gestel wees nie, druppels moet groot genoeg wees om deur haarkleed tot op vel van die dier te dring.
  • Probeer stresvolle diere hanterings aksies nie op warm, humiede dae doen nie, en indien nie anders kan nie, moet dit op ‘n koeler deel van die dag gedoen word.
  • Indien moontlik kan hoë kwaliteit ruvoer verskaf word in skaduwee areas waar diere skuil gedurende tye van hitte stres, al is daar genoeg weiding op ‘n kamp.
  • Indien ‘n weidings siklus gebruik word kan daar gepoog word om spesifieke kampe (bv. plat kampe met bome) te wei gedurende die warmste tye.
  • Daar bestaan voer bymiddels wat aanspraak maak op verbeterde produksies onder hitte stres omstandighede, en sulke middels word veral in die melkbedryf benut. Kontak gerus ‘n voedingkundige om meer hieroor uit te vind.