Hiermee ‘n kort opsomming van insekte wat by gevestigde canola voorkom.

LUISE
Alhoewel ander plantluisspesies ook canola infesteer is die koolluis (Brevicoryne brassica) tans die primêre spesie wat op canola voorkom.

Canola is uiters gevoelig vir luisbesmetting in vroeë groeistadiums, veral vanaf opkoms tot rosetvorming. Luise in groeipunt tydens rosetfase kan groei strem. Swaar en langdurige besmetting tydens blom en peulstadium kan ook blomvorming verhoed en die set en vulling van peule erg benadeel. Koue vertraag die opbou van populasies.

Koolluis

RUITRUGMOTLARWE (PLUTELLA XYLOSTELLA)

Die ruitrugmotlarwe is ‘n insek wat onderskat word en meer skade aanrig as wat ons dink.

Afhangende van die omgewingstemperatuur kan die mot al by stingelverlenging opgemerk word. Die liggroen larwe vreet gaatjies in die blare. Peule word ook aangeval. Die buitenste skilletjie word afgevreet. Sulke peule is geneig om makliker oop te spring. Peule word selde deurboor.

Ruitrugmotlarwe

[Erkenning aan : South Australian Research and Development Institute (SARDI)]


Skade aan peul

Die volgende drumpelwaardes geld vir die ruitrugmotlarwe :

Middel tot laat blom : 17 tot 23 larwes per 10 plante

Peulvulling : 43 tot 57 larwes per 10 plante

Monsterneming is uiters belangrik. Moet nooit aan die kant van die land begin monsters neem nie. Infestasie is gewoonlik hoër. Stap so 15 meter die land in voordat monsters begin neem word. Neem monsters met intervalle van 25 meter. Larwes langer as 3 tot 4 millimeter moet getel word.

Reënval meer as 5-8 mm in ‘n 24 uur periode kan die populasie aansienlik verminder. Warmer weer tydens blom en peulvulling sal populasie verhoog.

Die ruitrugmotlarwe word dikwels verwar met die vroeë instar van die bolwurm.

BOLWURM (HELICOVERPA SPP.)

Larwes verskil van kleur wat wissel van liggroen tot donkerbruin. Swaar bolwurm infestasies gaan gewoonlik gepaard met swaar luisbesmettings, aangesien die motte op die heuningdou, wat deur die luise afgeskei word, voed.

Larwes (groter as 1 cm) boor in peule en veroorsaak opbrengsverlies.

Drumpelwaarde :

4 tot 5 larwes per vierkante meter

Aanplantings moet vanaf die blomstadium gemonitor word.

Gereelde inspeksies is uiters noodsaaklik om bogenoemde insekplae doetreffend te beheer en opbrengsverliese te beperk.

JANNIE BRUWER

AKKERBOUKUNDIGE