Veekundige Oorsig:
Skape, beeste en bokke, drie spesies waarmee daar algemeen in die SSK streek geboer word, is herkouers, d.w.s. diere wat in staat is om voere te verteer wat hoog is in vesel en lignien, en onverteerbaar sou wees vir die enkelmaag dier. Hooi, strooi, kuilvoer en weidings is voorbeelde van sulke voere (ruvoere). Uiteraard is dit nie die herkouer self wat die normaalweg onverteerbare voere kan verteer nie, maar die teenwoordigheid van vesel verterende mikroörganismes in een van die herkouer se mae (die rumen), wat hierdie funksie verrig.
Met die bogenoemde in ag geneem kan mens aanvaar dat die rumen se gesondheid en optimale werking belangrik is vir die maksimale benutting van ‘n herkouer se dieet. In hierdie skryf stuk sal ek dus ‘n paar basiese punte rakende rumen gesondheid en werking bespreek.
Die Rumen En Sy Mikroörganismes:
Die herkouer word onderskei van enkelmaag diere deur, onder andere, die teenwoordigheid van meer as een maag kompartemente, vier om spesifiek te wees, wat bestaan uit die rumen, retikulum, omasum en abomasum. Die rumen self is een van een van die kenmerkendste dele van die herkouer spysverteringstelsel, want dit is hier waar mikrobiese vertering van in voer wat ingeneem is plaasvind.
Die mikroörganisme populasie in die rumen bestaan uit drie verskillende tipes mikroörganisme: bakterieë, protosoa en fungi. Bakterieë en protosoa is die belangrikste mikroörganismes in terme van getalle en verterings funksie. Dit is belangrik om te let dat verkillende spesies bakterieë, protosoa en fungi, verskillende komponente van die voer verteer, met sekere spesies gefokus op bv. stysel en suiker vertering, terwyl ander spesies weer veselagtige komponente soos sellulose verteer. Die samestelling van die rumen mikrobiese populasie wissel dus na gelang van die grondstof inhoud van die voer, en indien daar skielike veranderings in voer grondstowwe plaasvind, sal die rumen mikrobiese populasie ook moet aanpas.
Die rumen mikroörganismes is wat die herkouers in staat stel om ruvoere te benut wat nie van waarde sou wees vir enkelmaag diere nie, deur die vertering van normaalweg onverteerbare komponente soos sellulose moontlik te maak. Dit maak dus sin dat rumen gesondheid en werking gepaard gaan met die gesondheid en werking van die mikrobiese populasie in die rumen.
Faktore Vir Optimale Rumen Werking:
pH
Die pH van die rumen omgewing is baie belangrik vir die werking van vesel verterende mikroörganismes, met verskillende spesies mikroörganisme wat floreer by verskillende pH’s. ‘n Rumen pH van tussen 6.2 tot 7 word as optimaal beskou vir die proliferasie van vesel verterende mikroörganismes. Onder ‘n pH van 6.2 begin daar ‘n afname in die getalle en werking van hierdie mikroörganismes, en indien die rumen pH onder ~5.5 val sal hierdie mikroörganismes begin uitsterf en asidose (suurpens) sal ervaar word.
Herkou
‘n Gesonde rumen sal ongeveer 1 tot 3 keer per minuut saamtrek, en voldoende herkou tot gevolg hê. Die herkou aksie is baie belangrik vir die instandhou van ‘n gesonde rumen, want herkouers se speeksel is ryk aan buffers wat ‘n optimale rumen pH handhaaf, asook vog en sommige minerale vir rumen mikrobiese werking verskaf.
Effektiewe Vesel
Ruvoere in herkouer rantsoene moet genoeg vesel verskaf vir die stimulering van herkou. Partikel lengtes moet nie te kort wees, of te lank wees nie (2 tot 5cm), en die totale Neutral Detergent Fibre (NDF) in die rantsoen moet verkieslik tussen 28-34% wees.
Vars Water
Die rumen inhoud bestaan uit voer partikels en rumen mikroörganismes in suspensie in rumen vloeistof. Die vloeistof in die rumen is grotendeels water, en herkouers moet groot hoeveelhede water inneem om die rumen omgewing waterig te hou. Die beskikbaarheid van skoon, vars water, van goeie kwaliteit, is dus belangrik vir die onderhoud van ‘n gesonde rumen en rumen mikrobiese populasie.
Nutriënt beskikbaarheid
Die rumen mikroörganisme populasie neem tussen 4 tot 6 weke om volledig aan te pas na ‘n drastiese voer verandering. Vir optimale rumen werking is dit dus belangrik om so min as moontlik variasie in die herkouer se voer samestelling en toediening te hê. Veranderings in voer, soos byvoorbeeld die skuif na ‘n nuwe tipe weiding, moet verkieslik geleidelik plaasvind, en diere moet so ver moontlik konstante toegang hê tot die voer.
Monitor Rumen Gesondheid:
Produksie
Veranderings in produksie prestasie kan ‘n indikator wees van rumen gesondheid, veral by melkbeeste. Enige skielike dalings in bottervet of melk proteïen moet ondersoek word en beskou word as moontlike indikators van ‘n geaffekteerde rumen
Herkou
Wanneer ‘n trop diere rustend is sal ‘n groot persentasie (~50%) besig wees om te herkou indien hul rumens in goeie gesondheid is. ‘n Duidelike afname in die persentasie diere wat herkou wanneer hulle rustend is, kan ‘n indikasie van ‘n verandering in rumen gesondheid wees.
Mis
Die mis van herkouers is een van die handigste maniere vir die boer om rumen gesondheid te monitor. Mis moet normaal wees en ‘n koek vorm by beeste. By skape moet mis bolletjies en nie trosse vorm nie. Loperige mis, mis met borrels of slym teenwoordig, of waar onverteerde graan in die mis sigbaar is, is tekens dat daar ‘n probleem kan wees met rumen gesondheid.
Kondisie
Troppe diere wat in dieselfde stadium van produksie is behoort soortgelyke liggaams kondisie tellings te hê. Groot variasie in kondisie tussen diere in dieselfde trop, in soortgelyke produksie stadia, kan ‘n indikasie wees van ‘n probleem in die uniformiteit van voer bestuur en dus ongesonde rumens wees.
Slot
Die doel van ‘n herkouer produsent is om die beskikbare ruvoer se waarde te verhoog deur dit om te skakel in ‘n diere produk soos vleis, wol of melk. Die rumen is krities belangrik in hierdie proses, want dit is waar die vertering van andersins onverteerbare (en dus waardelose) gedeeltes van ruvoer plaasvind. Die instandhouding van ‘n gesonde en effektiewe rumen behoort dus een van die herkouer produsent se hoof mikpunte te wees, om sodoende die waarde van die beskikbare ruvoer optimaal te ontgin.