Veekundige Oorsig:
2021 is in volle swang en glo dit of nie, ons betree reeds die tweede maand van 2021. Ons hoop van harte dat 2021 ‘n beter jaar vir die veeboer in die SSK streek sal wees, en met die goeie oes van 2020 wat oor die algemeen vir ‘n goeie voorraad ruvoer soos hooi, strooi en kuilvoer gesorg het, sal die situasie op baie vee produsente se plase heelwat beter lyk as begin 2020.
Met genoeg voer op die plaas is die aanwending (hoe die voer benut word) daarvan van kardinale belang. Droë materiaal inname is een van die belangrikste drywers vir optimale vee produksie, en iets wat in die praktyk nie noodwendig altyd die nodige aandag geniet nie. In hierdie skryf stuk sal ek die belangrikheid van droë materiaal inname bespreek, asook metodes om dit te bepaal en manipuleer.
Droë Materiaal Inname:
Droë materiaal (DM) verteenwoordig die gedeelte van voer wat oorbly indien alle vog daaruit verwyder word. Dit is die gedeelte van die voer wat alle nutriënte (energie, proteïen, vitamiene, minerale ens.) bevat. Vog in voer word net soos water wat gedrink word benut deur die dier, maar uit ‘n voedingkundige oogpunt word verskillende voer bestanddele, en mengsels, gewoonlik op ‘n DM basis met mekaar vergelyk.
Droë Materiaal Inname (DMI) verteenwoordig die hoeveelheid DM wat per dag deur die dier gevreet word, en is een van die belangrikste drywers van diere produksie. Wanneer voere geformuleer word, word dit met ‘n spesifieke DMI vir die diere waarvoor geformuleer word gedoen, asook spesifieke DM inhoude vir bestanddele waarmee geformuleer word. Indien daar groot verskille tussen die DM en DMI wat tydens formulering gebruik word en dit wat in praktyk aan die dier gevoer word is, sal die diere nie die nodige nutriënte inneem vir produksie tot die formuleerder se verwagtinge nie.
Faktore wat DMI beïnvloed:
- Voer Beskikbaarheid Dit is belangrik dat diere vrye toegang tot hul voer moet hê. Te min bak spasie sal lei tot kompetisie onder diere wat voer beskikbaarheid en DMI onderdruk. So ook moet seker gemaak word dat daar altyd voer in die bakke is, en dat diere nie te lank weerhou word om te vreet wanneer daar met hulle gewerk word nie.
- Voer Kwaliteit Voer kwaliteit en smaaklikheid het ‘n beduidende effek op DMI. Afnames in voer kwaliteit en smaaklikheid sal DMI laat sak, terwyl voer van beter kwaliteit en smaaklikheid ‘n toename sal veroorsaak. Faktore wat kwaliteit en smaaklikheid beïnvloed sluit in:
- Varsheid van voer
- Teenwoordigheid van muf en swamme
- Insluiting van smaaklike bestanddele soos molasse
- Vog inhoud
- Temperatuur van die voer – warm voer sal ‘n afname in DMI veroorsaak
- Voer Bestuur Voer moet gemeng word om sodat dit maklik is om te vreet en verteer. Gee aandag aan:
- Sny lengte indien gemeng word
- Graan inhoud van mengsel, asook die prosessering van grane
- Stadium van volwassenheid wanneer weidings gewei word.
- “Neutral Detergent Fibre” (NdF) inhoud NdF inhoud van die rantsoen is een van die grootste bepalers van DMI. Rantsoene moet geformuleer word om genoeg NdF te bevat vir optimale rumen werking, maar nie oormatige NdF bevat nie aangesien dit vertering vertraag en DMI onderdruk. Optimale DMI word gewoonlik bereik met NdF inhoud wat tussen 28% tot 34% van die totale rantsoen is. Ruvoere wat teen ‘n later stadium van volwassenheid benut word sal ‘n hoër NdF inhoud hê.
- Ander Faktore wat DMI beïnvloed:
- Dier grootte
- Rumen gesondheid
- Produksie stadium
- Water kwaliteit en beskikbaarheid
- Temperatuur (Hittestress)
- Dier gesondheid
- Nutriënt beskikbaarheid
Bepaal en Manipuleer DMI:
Dit is reeds genoem dat DMI baie kan wissel volgens die verkillende faktore wat dit beïnvloed, dus is die volgende duimreëls net aanduidings van wat diere se verwagte DMI sal wees.
Een van die eenvoudigste maniere om verwagte DMI vir ‘n spesifieke groep diere te bepaal is om dit af te lei van hul gemiddelde lewendige gewig. Herkouers soos skape en beeste sal ongeveer 2-4% van hul lewendige gewig per dag inneem in DM:
- Nie produserende diere, diere op droë, swakker weidings of swakker kwaliteit voere – 2%
- Produserende diere op beter kwaliteit voer – 2.5-3%
- Hoë produserende diere op hoë kwaliteit voere (veral voere met ‘n groter konsentraat komponent – 3-4%
Vir hoë produserende diere wat volledig gemengde voere ontvang is dit belangrik dat hulle vir soveel tyd as moontlik toegang tot die voer moet hê. Bakke wat vir ure lank leeg staan sal ‘n groot afname in DMI en produksie prestasie veroorsaak. Indien dit voorkom dat diere te min van ‘n mengsel ontvang, en voer bakke vir ‘n geruime tyd leeg staan in die dag, moet daar meer van die voer gemeng word, maar in dieselfde bestanddeel verhoudings as wat oorspronklik geformuleer is. ‘n Eenvoudige manier om dit te doen is om die getal diere waarvoor gemeng word te vermeerder, al is die getal diere in realiteit dieselfde.
Die volgende tabel illustreer bogenoemde. Die oorspronklike mengsel is vir een dier met ‘n verwagte DMI van 18kg/dag. Vir ‘n groep van 100 diere word daar dus 1800kg voer gemeng (18kg x 100 diere). Indien die produsent waarneem dat diere meer as die verwagte DMI inneem (leë voerbakke), kan die mengsel vir 110 diere gemeng word, en elke dier in die groep van 100 diere sal dus 19.8kg voer inneem per dag, ‘n toename van 1.8kg DMI bo die oorspronklike mengsel, wat steeds in die regte verhoudings gemeng is:
Bestandeel | Oorspronlike Mengsel (1 Dier) | 100 Diere | 110 Diere |
Hoë Proteien Konsentraat | 9.9kg | 990kg | 1089kg |
Hawer Hooi | 6.3kg | 630kg | 693kg |
Lusern | 1.8kg | 180kg | 198kg |
Totaal | 18kg | 1800kg | 1980kg |
DMI (100 diere in groep) | 18kg | 19.8kg |
Hoe kan ek DMI optimaliseer?
- Maak seker ruvoere wat gevoer word, is van die hoogste moontlike kwaliteit. Die stadium van plant volwassenheid tydens die maak van ruvoer is hier van kardinale belang.
- Maak seker daar is geen metaboliese siektes soos suurpens teenwoordig nie.
- Maak seker diere is in die regte kondisie op die regte tyd.
- Gebruik korrek geformuleerde voere wat in die regte verhoudings gemeng word.
- Oorweeg die insluiting van buffers, smaak middels of giste indien faktore wat op die plaas bestuur kan word nie effektief is nie.