Veekundige Oorsig:

Die SSK streek is geseën met ‘n uitsonderlike goeie oes in 2020, en omstandighede het ontstaan wat tot wye beskikbaarheid van voergars as koste effektiewe alternatiewe voedings bron vir mielies gelei het. Voergars is natuurlik ‘n goeie voedings bron vir plaasdiere, wat oor die hele wêreld gebruik word vir die voer van beide herkouers en (tot ‘n mindere mate) enkelmaag diere. In hierdie oorsig sal ek poog om ‘n paar basiese riglyne en wenke vir die voer van gars uit lig, met die doel om soveel as moontlik waarde uit die gars te put vir die veeboer.

Gars:

Gars is ‘n klein graan wat algemeen in die SSK streek verbou word in die winter. Die gars pit bestaan uit die doppie (7-17%), die endosperm (80-90%) en die kiem (~3%). Die doppie is hoog in vesel en die endosperm ryk aan stysel (energie) en proteïen, terwyl die kiem hoog in stikstof en vet is.

Gars word gegradeer i.t.v. hektoliter massa, en die energie inhoud is hoër in gars met hoër toets gewigte. Daarteenoor sal gars met ‘n hoër proteïen inhoud ‘n laer stysel inhoud hê, maar die energie kan steeds goed wees, aangesien proteïen ook ‘n energie komponent bydra, dus word totale verteerbare voedingstowwe nie noodwendig veel geaffekteer.

Gars vs. Mielies:

Gars is laer in stysel en energie, en hoër in proteïen en vesel as mielies. Die stysel en proteïen fraksie van gars is vinniger verteerbaar as mielies, wat tydens die voer van gars in ag geneem moet word. Gars bevat hoër vlakke van die aminosure metionien, sistien, lisien en triptofaan as mielies.

Nutriënt Eenheid Gars Mielies
Ru Proteïne % 11.8 9.4
Energie MJ/kg 12.4 13.6
Vesel g/kg 52 25
Stysel g/kg 597 734

Tabel 1: Uitgesoekte verskille in voedingswaarde tussen gars en mielies (www.feedipedia.org).

Gars vs. Gars

Wanneer gars vir diere gevoer word moet die spesifieke gars wat gebruik word ook in ag geneem word.
Verskillende kultivars gars kan ook aansienlik varieer in hul nutriënt waarde en geskiktheid vir diere voeding, en hierdie verskille moet ideaal ook in ag geneem word wanneer daar met gars gevoer word.

Gars Uitdagings:

Vinnig verteerbare stysel en proteïen – Gars se stysel inhoud is minder as mielies, maar die stysel wat gars bevat is vinniger verteerbaar as mielies, en word grotendeels in die rumen degradeer, teenoor ‘n groter fraksie stysel wat die laer spysvertering bereik wanneer mielies gevoer word. Dit maak gars meer geneig om suurpens in herkouers te veroorsaak. Hierdie eienskap van gars kan bestuur word deur korrekte voer formulering, met genoeg buffers en ruvoere wat benut kan word om dit te bestuur.

Bestanddeel % In Rumen Degradeer % Post Ruminaal Degradeer Totale % Degradeer
Gemaalde Mielies 49.50% 44,00% 93.50%
Gemaalde Gars 88,00% 10.50% 98.50%

Tabel 2: Verskille in degradering van gemaalde gars en mielies in die herkouer (www.jasbsci.biomedcentral.com/articles/10.1186/2049-1891-3-22 ).

Hoë vesel inhoud – Die hoë vesel inhoud van gars in vergelyking met mielies maak dit minder van waarde by die voer van enkelmaagdiere soos varke. Herkouers kan deur mikrobiese fermentering in die rumen hoë vesel bronne benut.

Proteïen kwaliteit – Gars se proteïen kwaliteit is nie van die hoogste gehalte nie, en wanneer diere met ‘n behoefte vir goeie kwaliteit proteïen en deurvloei proteïen gevoer word (produserende melkbeeste, laktereande ooie ens.), moet ander bronne van kwaliteit proteïen by gevoer word.

Mikotoksiene – Vogtige klimaats omstandighede tydens sekere groei stadiums van gars, of inkorrekte opberging, kan tot muf en mikotoksien vorming lei. Veral Deoxivalenol kan teenwoordig wees.

Gars en Mielies:

Heelwat van die uitdagings wat met die voer van gars ondervind word, kan oorkom word deur nie al die mielies in ‘n mengsel te verplaas met gars nie, maar eerder ‘n gedeelte. Goeie resultate kan behaal word deur die verplasing van tot 50% mielies in ‘n mengsel en sommige studies stel voor dat daar ‘n sinergistiese werking tussen gars en mielies is wat verbeterde melkproduksie kan veroorsaak teenoor die insluiting van een van die grane alleenlik.

Wenke vir die Voer van Gars:

Wanneer gars ingesluit word by die rantsoen, veral teen hoër vlakke, moet sy unieke eienskappe i.t.v vesel inhoud en veral i.t.v stysel en proteïen degradeerbaarheid in berekening gebring word.

Die grootste uitdaging met die voer van gars is hoër vlakke van vinnig verteerbare stysel en proteïen, wat aanleiding kan gee tot ‘n suurpens situasie in herkouer. Om hierdie situasie te voorkom kan stappe geneem word tydens die formulering en meng van voere om die risiko’s te verminder.

  • Oorweeg die insluiting of verhoging van buffer vlakke in die rantsoen. Buffers voorkom uitermatige veranderings in rumen Ph en kan ‘n groot hulpmiddel wees tydens die voer van gars.
  • Beperk die totale hoeveelheid gars in herkouer rantsoene tot nie meer as ~35% van droë materiaal (DM). Sommige bronne beveel ‘n meer konserwatiewe maksimum insluiting van 3kg per koei per dag aan. Let wel dat gars heel gevoer moet word vir skape, en gemaal moet word vir beeste. Wanneer heel gars pitte vir skape gevoer word verlaag dit die suurpens risiko aansienlik, en groter hoeveelhede gars kan in die rantsoen gevoer word.
  • Maak seker daar is genoeg ruvoer in die dier se totale rantsoen. Daar word gewoonlik aanbeveel dat ‘n minimum van 40% ruvoer in melkbeeste se mengsels ingesluit word. Met hoë vlakke van gars kan oorweeg word om meer ruvoer in te sluit.
  • Maak seker hoë produserende diere kry steeds genoeg goeie kwaliteit proteïen.
  • Sluit ‘n mikotoksien binder in indien daar vermoed word dat gars van ‘n swakker kwaliteit is.

Gevolgtrekking

Gars is ‘n handige alternatief vir mielies, veral in herkouer rantsoene, wanneer dit teen die regte prys beskikbaar is. Daar is egter risiko’s verbonde aan die voer van hoë vlakke gars, maar hierdie risiko’s kan met goeie bestuur en korrekte voer formulering beperk word tot ‘n minimum. Kontak gerus ‘n diere voedingkundige indien u gars veilig vir u diere wil voer, of mengsels met gars vir spesifieke diere benodig.