Veekundige Oorsig:

Die SSK streek is grotendeels die winter geseën met goeie reëns en die meeste lewende hawe produsente kon ‘n goeie ruvoer bank opbou vir die komende droë seisoen. Vog speel ‘n baie belangrike rol in die opberging, aanwending en prys bepaling van ruvoere. In hierdie maand se oorsig gaan ek ‘n paar basiese beginsels ten opsigte van vog en vog bepaling van ruvoere bespreek.

Belangrikheid en Bepaling van Ruvoer Vog:

Vog inhoud (en dus droë materiaal (DM) inhoud) van ruvoere is ‘n belangrike eienskap waarvan lewende hawe produsente kennis moet dra. Die vog inhoud van ruvoer beïnvloed uiteraard verskeie ander prosesse en bepalings:

  • Opberging Dit is baie belangrik dat ruvoere die geskikte hoeveelheid vog bevat vir optimale opberging. Hooi wat te nat is tydens opberging sal muf vorm en ‘n daling in voedingswaarde sal waargeneem word. Dit verhoog ook die risiko vir mikotoksien teenwoordigheid in die hooi. Kuilvoer moet ook teen ‘n geskikte vog gemaak en geberg word, Kuilvoer wat of te nat, of te droog is sal nie ordentlik deur die inkuiling proses gaan nie, met ‘n gevolglike afname in kwaliteit en rakleeftyd, en toename in mikotoksien risiko.Tabel 1: Ruvoer Vog Inhoud en Risiko’s.
Ruvoer Min DM% Maks DM% Lae DM Risiko Hoë DM Risiko
Hooi 85,00% 90,00% Muf en mikotoksiene
verrotting, hitte vorming
Blaar verliese, stowwerigheid
Strooi 85,00% 90,00% Muf en mikotoksiene
verrotting hitte vorming, uitgesakte bale
Blaar verliese, stowwerigheid
Kuilvoer (Baal) 35,00% 45,00% Muf en mikotoksiene
verrotting, hitte vorming
Suurstof indringing
muf en mikotoksiene
onvoldoende inkuiling
Kuilvoer (Bunker) 25,00% 35,00% Muf en mikotoksiene
verrotting, hitte vorming
Suurstof indringing
muf en mikotoksiene
onvoldoende inkuiling
  • Aanwending Wanneer ruvoer gevoer word, veral in gemengde rantsoene of wanneer dit as deel van ‘n dier se totale inname in berekening gebring moet word, is dit baie belangrik dat daar ag geneem word wat die ruvoer se vog inhoud is en variasie wat mag voorkom. Verskille tussen die werklike vog inhoud van ruvoere en die DM% wanneer mengsels geformuleer word sal lei tot oormatige of ongeskikte insluiting van ruvoere met gevolglike risiko’s. Tabel 1 toon ‘n teoretiese geval waar kuilvoer met onderskeidelik 35% DM en 45% DM in dieselfde nat mengsel ingesluit word.Tabel 2: Invloed van Verskille tussen Werklike Vog en Vog waardes tydens Formulering.
Nat Mengsel (KV 35% DM) Droë Mengsel (KV 35% DM) Droë Mengsel (KV 45% DM)
Konsentraat 400kg 360kg 360kg
Kuilvoer 600kg 210kg 270kg
Totaal 1000kg 570kg 630kg
DM Inname (35 Koeie) 16.29kg 18.00kg
Ruvoer % 36.84% 42.86%
Energie (%TVV) 65,00% 66,00%
Ru-Proteïen 15,00% 16,00%

In hierdie geval sou koeie ‘n risiko vir suur pens geloop het indien 35%DM kuilvoer gebruik is (‘n minimum ruvoer % van 40% word aanbeveel vir melkkoeie), asook 1.7kg minder DM per koei per mengsel gevoer word.

Die proteïen en energie konsentrasie in mengsels word ook beïnvloed deur verskille tussen werklike vog inhoud en die waardes wat tydens formulering gebruik word.

  • Waarde bepaling
    Wanneer ruvoer se waarde bepaal word speel DM% natuurlik ook ‘n belangrike rol. Die koper van ruvoer se doel is op die ou end om droë materiaal te koop, en wanneer werklike DM% laer is wat tydens berekening van waardes gebruik is, sal die koper duurder per ton DM op sy plaas betaal soos geïllustreer in die volgende tabel:
Hawer hooi Prys per ton Nat Kg DM/Ton Prys per ton DM
85%DM R 2 700,00 850 R 3 176.47
80%DM R 2 700,00 800 R 3 375.00

Vir dieselfde rede is dit belangrik dat DM% so na as moontlik aan die werklikheid moet wees wanneer ruvoere se waarde van byvoorbeeld die lusern prys afgelei word.

Bepaal die DM% van Ruvoere TUIS:

Daar is verskeie maniere om die vog inhoud van ruvoere te bepaal, met onder andere droog oondjies en “probes” wat algemeen in die veevoer bedryf gebruik word. Die boer kan egter self by die huis ‘n redelike akkurate bepaling van ruvoer DM% deur gebruik te maak van ‘n mikrogolfoond. Die volgende proses kan gevolg word:

  • Die volgende word benodig: ‘n mikrogolfoond (verkieslik spesifiek vir hierdie doel, ruvoer droging kan reuke agter laat), ‘n skaal (gram), ‘n mikrogolfoond veilige bakkie of bordjie, en die monster wat gedroog moet word.
  • Sny ruvoer monster in kort 2cm tot 5cm dele.
  • Weeg die houer waarin die monster geplaas gaan word noteer die gewig.
  • Sit die ruvoer monster binne die mikrogolf veilige houer en weeg weer, noteer die gewig. Ek verkies om 100 gram ruvoer monsters te gebruik vir maklike berekeninge.
  • Versprei die ruvoer eweredig (nie dieper as 4cm nie) in die houer, met ‘n oop spasie in die middel, en plaas in die mikrogolfoond.
  • Begin monster op die hoogste stelling van die oond verhit. Verhit die monster vir ‘n tydperk (korter, een tot twee minuut, periodes kan aanvanklik gebruik word tot u meer vertroud is met die proses.
  • Haal houer met monster uit die mikrogolfoond en weeg, noteer gewig. Meng weer die monster in die bakkie en plaas terug in die mikrogolfoond, en mikrogolf weer teen hoog vir 1 minuut. Wees versigtig met die verhitting van hoë vog ruvoere, gebruik ‘n laer stelling van die oond indien die monster nie meer met die hand aangeraak kan word nie.
  • Herhaal die vorige stap totdat monster gewig nie meer afneem tussen twee siklusse in die mikrogolfoond nie.
  • Bepaal vog en DM inhoud met genoteerde gewigte:
    • Deel verlies aan gewig is die vog fraksie wat verlore gaan.
    • Deel die totale verlies aan gewig deur die aanvanklike monster gewig, en maal met 100, om die Vog % van die ruvoer te bepaal.
    • Vog % = ((Verlies aan Gewig)/(Begin Monster Gewig)) x 100
    • DM % = 100 – Vog %
  • Maak seker hierdie proses word in ‘n veilige area gedoen, en sorg dat voorsorgmaatreëls getref word ingeval van ongeluk (hou ‘n brandblusser naby en hou altyd toesig).

Akkerboukundige Oorsig:

Organiese materiaal in die grond.

Word verwys na die volle reeks organiese stowwe in die grond nl. lewende organismes van variërende groottes, organiese reste in verskillende stadia van ontbinding en die donker gekleurde humus wat bestaan uit nie-humus en humus stowwe.

Organismes.

Organismes word volgens hulle grootte in makrofauna, mesofauna en mikro-organismes ingedeel.
Organismes breek die organiese reste af in kleiner fragmente tot dit onherkenbaar is. In die proses ondergaan die organiese verbindings oksidasie wat lei tot die vrystelling van koolstofdioksied onder suurstofryk toestande en metaan onder suurstofarm toestande. Omdat sekere van die verbindings in die reste redelik weerstandbiedend teen oksidasie is word dit nie omgeskakel na die bogenoemde gasse nie.
Die maklik ontbindbare verbindings in die organiese reste soos koolhidrate, proteïene en hemisellulose sal die vinnigste afgebreek word teenoor die moeilik ontbindbare verbindings soos sellulose, vette, wasse en lignien wat stadig afbreek. Die oorblywende materiaal sal dan nie meer onderskeibaar wees van humus nie.

Wat is Humus?

Mengsel van verskillende organiese stowwe wat as nie-humies(10-15%) en humiese stowwe (85-90%) geklassifiseer word.

Humiese stowwe kan volgens hulle oplosbaarheid in suur en alkaliese reagense in verskillende fraksies gefraksioneer word.

– Fulviensure is oplosbaar in suur en alkali.
– Humiensuur is onoplosbaar in suur, maar oplosbaar in alkali
– Humien is onoplosbaar in suur en alkali. Humien word aanvaar as humiensuur gebind aan klei.

Fulviensuur Humiensuur
1000 Molekulêre massa 300000
40 Koolstof (%) 60
45 Suurstof (%) 30
3 Waterstof (%) 7
1 Stikstof (%) 5
0.1 Swawel (%) 1
500 – 1000 Katioonuitruilkapasiteit cmol/kg 300 – 500

Bronne

  • ORGANIC MATTER, HUMUS, HUMATE, HUMIC ACID, FULVIC ACID AND HUMIN:
    THEIR IMPORTANCE IN SOIL FERTILITY AND PLANT HEALTH
    Dr. Robert E. Pettit . Emeritus Associate Professor Texas A&M University
  • MVSA Bemestingshandleiding 7de Herdruk 2014