Veekundige Oorsig

Uitdagings tydens die wei van goeie aangeplante weidings

Die SSK streek beweeg tans in die Lente maande in, tye wat gepaard gaan met uitstekende weidings toestande op die meeste plase wat van aangeplante weidings gebruik maak. Jong weidings is in ‘n vinnig groeiende stadium en is ryk in ru-proteïen en hoog in vog. Gedurende hierdie tyd van die jaar word unieke uitdagings op sulke weidings ervaar, en ek sal vervolgens ‘n paar van hierdie uitdagings bespreek.

Variasie op Weidings

Variasie is een van die grootste uitdagings wanneer weidings optimaal benut moet word. Dit is normaal dat daar groot verskille in droë materiaal (DM) beskikbaarheid, samestelling en kwaliteit van weidings is, tussen verskillende plase, verskillende kampe, en selfs op verskillende areas binne dieselfde kamp. Dieselfde weidings kan selfs varieer in kwaliteit oor tyd (seisoenaal), soos omgewings toestande dit beïnvloed.
Ontledings van weidings het dus oor die algemeen minimale waarde, aangesien dit hoogs onwaarskynlik is dat die monsters geneem verteenwoordigend is van wat die diere op ‘n spesifieke tyd inneem. Sulke ontledings se finansiële implikasies moet goed besin word. Ontledings om seisoenale tendense te monitor kan meer sin maak.

Weidings kwaliteit vs. groei stadium

Weidings kwaliteit wissel volgens die groei stadium van die plant, asook die ouderdom van die stand.
Die voedingswaarde van weidings is die hoogste wanneer die weiding in ‘n jong groeiende (vegetatiewe) stadium is, en sal afneem soos die plant, en stand, ouer word:

Fig 1: Verandering in weidings verteerbaarheid volgens groei stadium.
(https://mbfp.mla.com.au/pasture-growth/tool-27-field-based-pasture-measurements/)

Droë materiaal inname op weidings

Droë materiaal beskikbaarheid en inname is een van die mees uitdagende faktore in terme van diere produksie op weidings. Die balans tussen die hoeveelheid DM deur die weiding geproduseer en die hoeveelheid diere wat per ha aangehou word is van uiterste belang vir die optimale benutting en winsgewendheid. Die mikpunt moet wees dat
soveel moontlik van die weidings teen die optimale kwaliteit benut word, met so min as moontlik vermorsing van weiding.

Wanneer droë materiaal produksie van die weidings die behoefte van die diere oorskry, moet daar steeds gepoog word om beste kwaliteit weiding aan produserende diere beskikbaar te stel. Oortollige weidings kan eerder gebaal en gehou word vir toekomstige tye van DM skaarste, indien die moontlikheid bestaan. Dit is gewoonlik meer betalend as om hoog produserende diere op sub-optimale weidings te laat wei in ‘n poging om die weidings “in te haal”.

Voedings uitdagings op jong sappige weidings

Weidings in hierdie stadium het die volgende eienskappe:

  • Hoog in ru-proteïen
  • Hoog in nie-proteïen stikstof (NPN)
  • Laag in natuurlike proteïen
  • Laag in nie strukturele koolhidrate (suiker en stysel)
  • Laag in NDF en vesel
  • Hoog in vog

Ru-proteïen, NPN en Natuurlike Proteïen

Hoë vlakke rumen de gradeerbare proteïen en NPN is beskikbaar vir die dier wanneer hierdie weidings gewei word, en die benutting van hierdie beskikbare proteïen en N is van uiterste belang gedurende hierdie tyd. Verskaffing van genoeg energie in die vorm van nie strukturele koolhidrate (stysel en suiker), sal rumen organismes in staat stel om ‘n meer proteïen en N te benut en om te sit in mikrobiese proteïen, wat deur die dier benut kan word.
Aminosuur balans is nie gewoonlik ‘n beperking by hierdie weidings nie, behalwe by hoog produserende diere soos melkbeeste. Aminosuur wanbalanse kan deur die aanvulling van aminosuur of deur die verskaffing van natuurlike proteïen reg gestel word indien nodig.

Nie Strukturele Koolhidrate (NSC)

Nie strukturele koolhidrate soos stysel en suiker is gewoonlik die tweede mees beperkende faktor op jong weidings. Indien NSC tekort diere produksie benadeel kan bronne hoog in NSC soos graan aanvullend gevoer word om vlakke aan te vul en sodoende benutting van weidings verbeter, soos genoem onder die vorige hofie.

Vesel en Fisies Effektiewe NDF (peNDF)

Vesel en peNDF is belangrik vir die normale werking van die rumen omdat dit motiliteit van die rumen en herkou stimuleer. Jong, vinnig groeiende weidings is gewoonlik arm in hierdie nutriënte, wat sub optimale rumen werking en min herkou tot gevolg kan hê.

Vog

Jong, aktief groeiende weidings is baie hoog in vog vlakke en laag in droë materiaal %. Dit beteken diere op sulke weidings moet meer happe vat om dieselfde kg DM per dag in te neem. Hoë vog vlakke dra ook by tot die los mis wat gereeld waargeneem word wanneer diere hierdie tipe weidings wei.

Suur pens op Jong Weidings

Suur pens probleme word gewoonlik geassosieer met die hoë konsentraat vlakke wat met volvoer sisteme gepaard gaan, maar die moontlikheid vir sub-akute suur pens om op jong weidings te ontstaan moet nie ignoreer word nie. Aanvulling moet sorgvuldig geskied, want alhoewel weidings laag in NSC vlakke is en verbeterde benutting van weidings kan plaasvind indien dit aangevul word, kan dit ook rumen pH onderdruk. Voorsiening van lang vesel lengte ruvoer bronne soos strooi en hooi asook buffers sal onderdrukking van rumen pH voorkom en moet sterk oorweeg word indien suur pens simptome waargeneem word.

Wins op Weidings

Strategieë wat die benutting van beskikbare weidings optimaliseer is een van die vinnigste en sekerste maniere om wins te verhoog op sisteme wat van aangeplante weidings gebruik maak.

Dit sluit in:

  • Wei plante op die korrekte groei stadium.
  • Berg oortollige weidings indien moontlik, indien nie moet gepoog word dat die vlak van produksie van die dier ooreenstem met die weidings waarop dit loop.
  • Bevorder DM inname van weidings soveel as moontlik.
  • Vul enige tekortkominge van die weiding strategies aan volgens die tipe en klas dier wat wei. Korrekte groen weiding aanvulling van groeiende en lakterend diere kan goeie rendemente lewer.
  • Wees bewus van uitdagings soos suur pens wat kan voorkom op jong weidings, en hoe om dit te beveg.

Akkerboukundige Oorsig

Met die gemiddelde temperature wat besig is om te styg en grane wat meestal al in reproduksie fase is, is die insek druk besig om toe te neem teen ‘n versnelde tempo. Die rede hiervoor is dat die hoër temperature maak dat insekte vinniger deur hul lewensiklusse beweeg en meer nageslag produseer. Die reproduksie fase van die grane is ook baie stresvol vir die plant en dit maak hulle meer vatbaar vir die insekte. Die afgelope droë jare het ons gesien dat die ruitrugmot getalle in die canola van so aard is dat dit basies onbeheerbaar word. Die droogte het egter die plante meer vatbaar gemaak en het die larwes reeds op ‘n vroeë stadium die drempelwaarde oorskry wat nie in 2020 die geval behoort te wees nie, maar omdat ek reeds redelik larwe druk op die canola sien dink ek is dit goed om voorbereid te wees met inligting wat die produsente kan ondersteun.

Ruitrugmot (Plutella Xylostella)

Lewensiklus

Die ruitrugmot gaan deur 4 fases tydens sy lewensiklus. Soos reeds genoem is die tempo afhanklik van die temperatuur en kan die siklus binne 50 dae voltooi word of selfs in 14dae sou die gemiddelde temperatuur 25˚C wees. Die siklus word deur die skets geïllustreer en werk as volg:

3-7 dae Volwasse mot lewensduur.
3-8 dae inkubasie periode vir die eiers.
14-28 dae vir larwes om groei te voltooi.
5-10 dae as papie in beskermde laag.

Dit is belangrik om op te let dat die 4 fases bo genoem op dieselfde tyd op die canola kan voorkom. Sou die chemiese produk slegs 1 van die lewens fases beheer, bestaan die moontlikheid dat daar binne 10 dae ‘n nuwe larwe geproduseer kan word deur ‘n ander populasie wat nie beheer was nie. Daarom sal etikette jou aanraai om kontak middels in 10-12 dae intervalle toe te dien.

www.infonet-biovision.org/PlantHealth/Pests/Diamondback-moth-DBM

Monitor van populasie groottes

INSEK DRUMPELWARDE BEPALING VAN INFESTASIE OPMERKINGS
Ruitrugmot Tel slegs wurms langer as 3-4 mm. Middel tot laat blom stadium 17-23 per 10 plante. Peul vulling 43-57 per 10 plante Loop deur die land in ’n sirkel patroon. Begin sowat 10-15 m van die kant van die land. Stop by 20-25 m intervalle. Neem ‘n ewekansige plant en skud in ‘n houer. Tel larwes langer as 3-4 mm Reënval meer as 5–8 mm in ’n 24 uurperiode sal die aantal wurms aansienlik verminder.

Canola Produksiehandleiding

‘n Vinnige manier om wurms te tel is om die geplukte plante op ‘n bakkie se neus te slaan sodat die wurms daar afval en maklik sigbaar is om ‘n uniforme agtergrond.

Chemiese beheer

Persoonlik voel ek dat larwes tydens blom en peulvorming nog aan die blare van plante voed sowel as aan swakker canola plante wat oorskadu word. Larwes is ook geneig om onder blare te sit waar kontak en maag aksie insekdoders hulle nie kan bereik nie. Daarom is dit belangrik om tydens hierdie periode nie net ‘n middel te spuit wat slegs kontak en maag insekdoder is nie maar om eerder gebruik te maak van ‘n translaminêre insekdoder wat deur die blare beweeg. Dit is ook die ideale tyd om die verskeie populasie fases te beheer met produkte wat mot, eier en larwe dodend is. Dit sal sorg dat die drempelwaarde nie vinnig weer bereik sal word nie. Sodra die canola klaar blom en die blare afsterf of opgevreet word sal die larwes beweeg na die peule en verkies dan die jongste peul op die punte van die halms. Dit stel egter die larwes bloot om beheer te kan word deur slegs kontak en maag insekdoders.

Lys van aktiewe vir die beheer van ruitrugmot wat op canola geregistreer is.

Beheer van Lewens stadia
Aktief Eiers Larwes Volwasse
Mot
MOA Groep Roete van
Inname
Chlorantraniliprole +
lambda-cyhalothrin
Werking Werking Werking IRAC:28 & 3A Kontaken maag
Chlorpyrifos +
cypermethrin
Werking Werking IRAC:1B & 3A Kontak en maag
Emmamectin benzoate Min Werking IRAC:6 Maag
Indoxacarb Min Werking IRAC:22A Kontak en maag
Lambda-cyhalothrin Werking Werking IRAC:3A Kontak en maag

Syngenta en etikette

Byvoeg middels vir effektiewe beheer

Nadat die besluit gemaak is op die aktief wat die beste gaan werk. Moet daar nou besluit word wat bygevoeg moet word om die beste werking uit die aktief te kry. Die belangrikste is om die handleiding te lees om te sien of daar ‘n byvoeg middel benodig word saam met die produk om sy werking te verbeter. Sou die etiket geen byvoeg middel noem nie is dit belangrik om die verskillende maniere waarop insekdoders werk, te verstaan.

Die volgende punte is belangrik vir kontak en maag insekdoders:

  • Groepe 1A Carbamates, 1B OrganopHospHates en 3A Pyrethroids Pyrethrins word negatief geaffekteer deur die alkaliese pH van water wat dan die insekdoder d.m.v. alkaliese hidrolise afbreek om onaktief te word. Dit beteken dat minder aktiewe aktief toegedien word en dit lei tot swakker werking. In hierdie geval sal ‘n pH regstellingsmiddel gebruik word om die pH te verlaag deur versuring.
  • Omdat die bogenoemde aktiewe nie opgeneem word nie maar maag en kontak werking het is dit ook belangrik om goeie verspreiding te kry op die plant oppervlakte deur hoër water volumes of deur benatting en kleefmiddels.

Die volgende punte is belangrik vir sistemies en translaminêre insekdoders:

  • Sistemiese en translaminêre insekdoders moet deur die plant weefsel opgeneem word om hulle werking te kan uitvoer.
  • Die aktief moet so vinnig as moontlik en so veel moontlik opgeneem word deur die plant om goeie nawerking en beskerming te bied.
  • Canola het ‘n wasagtige laag bekend as die kutikula wat keer dat produkte vinnige deur die konsentrasie gradiënt opgeneem word. Daarom is dit belangrik om saam met hierdie produkte ‘n penetrerende middel te voeg om deur die kutikula te beweeg maar nog steeds die pH regstelling te doen om te verseker dat die maksimum aktief die plant bereik.