Voer Meng – Faktore om in gedagte te hou.
Die self meng van voer is ‘n belangrike, en duur, aktiwiteit op baie plase waar daar met vee geboer word. Met die droogte toestande wat die afgelope paar jaar oor groot dele van die SSK streek ervaar is, het self meng selfs meer algemeen geword in die gebied. Daar kan verskeie redes wees waarom voer gemeng moet word op ‘n plaas, maar die doel van meng en die faktore wat suksesvolle meng van voer beïnvloed, bly grotendeels die selfde.
Wanneer daar voer gemeng word is die doel om die regte voer, soos geformuleer, so eenvormig as moontlik in die optimale formaat aan ‘n groep diere te verskaf.
Die Regte Voer:
Wanneer voer gemeng word is dit eerstens belangrik dat die regte voer aan die regte groep diere gevoer moet word. Daar moet seker gemaak word die mengsel is, in terme van voedingstowwe, korrek gebalanseer vir die produksie stadium van die dier wat gevoer moet word en vir die doel waarvoor die dier gevoer word (onderhoud, vetmaak, volvoer, lek ens.). ‘n Voedingkundige se dienste kan word gebruik om seker te maak mengsels is doel spesifiek.
Verder moet die boer seker maak dat die mengsel wat gemeng moet word, en dit wat werklik in die voerbakke beland, dieselfde is. Vog inhoud van bestanddele kan byvoorbeeld baie varieer, en ‘n groot effek hê op die werklike voedingstof samestelling van ‘n gemengde voer. Daar moet dus seker gemaak word die vog inhoud van bestanddele soos in die resep, korreleer met die vog inhoud van die rou materiale op die plaas.
Die regte hoeveelheid voer moet ook gevoer word, volgens die doel waarvoor die voer aangewend word. Indien die hoeveelheid aangepas moet word, moet seker gemaak word die resep word IN VERHOUDING meer gemaak, en nie net een bestanddeel se insluiting word verhoog nie.
Eenvormigheid van die mengsel:
Eenvormigheid is van uiterste belang wanneer voer gemeng word, die doel is tog dat elke dier so ver as moontlik dieselfde, korrekte voer ontvang en sodoende die voer ten volle te benut. Daar is verskeie faktore wat die eenvormigheid van die mengsel wat uiteindelik gevoer word beïnvloed, onder andere:
- Menger se awegaars, lemme ens. is beskadig
- Menger staan ongelyk
Swaarder bestanddele sal na die laer kant van die menger migreer. - Meng tyd
Genoeg tyd moet verloop na die laaste bestanddeel bygevoeg is om voldoende deur meng te verseker. - Plek waar bestanddele in menger bygevoeg word
Bestanddele moet verkieslik in die middel van die menger by gevoeg word. Indien bestanddele slegs aan een kant van die menger bygevoeg word, kan onvoldoende meng plaasvind. - Grootte van mengsel
Oorvol mengers sal nie voer voldoende meng nie. Bestanddele wat uit die menger val kan ook mengsels ongebalanseerd maak. Wanneer mengsels te klein is kan onvoldoende vermenging ook plaasvind, veral as bestanddele bo-op awegaars bly sonder om in gemeng te word. - Hooi/Kuilvoer kwaliteit en verwerking
- Volgorde waarin bestanddele bygevoeg word
- Die volgorde waarin bestanddele bygevoeg word kan verskil van tipe menger en spesifieke bestanddele wat bygevoeg is, maar oor die algemeen geld die volgende:
- Lang hooi/ kuilvoer wat geprosesseer moet word.
- Grane/ Konsentraat/ Voormengsel (Die gewig hiervan help met
prosessering van ruvoere) - Ruvoere wat nie geprosesseer hoef te word nie.
- Vloeistof.
- Vloeistof verspreiding
Vloeistof moet so eweredig moontlik versprei word oor die mengsel.
Toets die menger:
Verskeie voorstelle vir die toets van mengers is in die literatuur te vinde. Die meeste toetse behels die byvoeging van ‘n maklik uitkenbare bestanddeel tot die mengsel, en die verspreiding van die bestanddeel in die finale voer word gemonitor. So kan bv. nartjies by die mengsel gevoeg word, en die hoeveelheid nartjies per meter voerbak getel word na die voer uitgegooi is. Indien daar duidelike variasie is, kan daar foute in die meng-proses wees.