Veekundige Oorsig:

Met die aankoms van Junie betree SSK se bedienings gebied nou die winter, en temperature in die area weerspieël dit duidelik met koue, lang nagte en kort dae. ‘n Groot gedeelte van die gebied is ook geseën met reën oor die afgelope maand, en die wêreld het ‘n optimistiese groen kleur aangeneem.

In hierdie oorsig gaan ek fokus op die voeding van ooie gedurende laat dragtigheid en laktasie. Optimale voeding van ooie in hierdie stadium is uiters belangrik want dit is een van die belangrikste produksie stadiums van die ooi is. Haar behoeftes in terme van voeding neem drasties toe tydens hierdie stadium aangesien haar nageslag binne haar groei, uier ontwikkeling plaasvind, en moet kolostrum en melk geproduseer word tydens laktasie.

Ooie Tydens Laat Dragtigheid en Laktasie: Effek van Goeie Voeding

Laat Dragtigheid:

Voeding tydens laat dragtigheid beïnvloed verskeie belangrike aspekte in skaap produksie: Fetus groei, Uier ontwikkeling, Lam Oorlewing, Wolproduksie en Reproduksie.

  • Fetus Groei
    Fetus groei binne die uterus van die ooi neem toe hoe nader die ooi aan geboorte gee kom. 75% van fetus groei vind plaas in die laaste 8 weke van dragtigheid, 70% in die laaste 6 weke, 50% in die laaste 4 weke en 25% in die laaste 2 weke. Die groei tempo van die fetus neem drasties toe in hierdie tydperk (van ~54gram/dag 8 weke voor lam, tot ~89gram/dag gedurende die laaste twee weke). ‘n Dragtige ooi kan dus tussen 5kg en 12kg in gewig toeneem in die laaste twee maande van dragtigheid. Gewigstoename van die ooi in hierdie tydperk kan ‘n goeie aanduiding gee van die geskiktheid van die rantsoen. Ooie van verskillende klasse moet verkieslik die volgende gewigstoenames toon in die laaste 8 weke van dragtigheid:Jong ooie met enkelinge – 8.5%
    Jong ooie met tweelinge – 12.5%
    Ooie met enkelinge – 10%
    Ooie met tweelinge – 18%
  • Uier Ontwikkeling
    Bo en behalwe die groei van die fetus, moet die korrekte voeding tydens dragtigheid voorsien vir die optimale ontwikkeling van uier weefsel, sodat daar tydens laktasie genoegsame melk geproduseer word vir die groeiende lam. Uier ontwikkeling begin plaasvind gedurende die laaste 5 weke van dragtigheid en die meeste ontwikkeling vind plaas in die laaste 3 weke. Tweeling ooie moet uiter aard meer uier weefsel produseer (tot 25% meer uier ontwikkeling is nodig).
    Die grootste faktor wat uier ontwikkeling beïnvloed is die hoeveelheid proteïen wat die laer spysverteringskanaal bereik (daarom die belangrikheid van deurvloei proteïen in laat dragtige ooie se rantsoen).
  • Lam Oorlewing
    Lae geboorte massas (onder 3.5kg) is een van die grootste oorsake van vroeë lam vrektes, en word direk beïnvloed deur voeding van die ooi tydens laat dragtigheid. Ondervoeding tydens laat dragtigheid verlaag ook kolostrum produksie en kwaliteit, en dit sal vervolgens verhoogde lam vrektes veroorsaak. Daarbenewens het navorsing getoon dat ooie met uiers wat goed ontwikkel is ook beter moeders eienskappe toon na geboorte van die lam.
    Die hoeveelheid kolostrum wat die lam inneem in die 18 uur na geboorte is van uiterste belang. Die lam benodig ongeveer 210ml/kg liggaamsmassa (710ml – 1200ml totaal).
    Die feit dat 70% van lam vrektes binne 48 uur na geboorte plaasvind, en dat 80% van hierdie vrektes voeding verwant is, wys die belang van korrekte voeding in hierdie tydperk.
    Deurvloei proteïen voeding is NB; dit is getoon dat lam oorlewing aansienlik verhoog met die voeding van deurvloei proteïen bronne gekombineer met grane in laat dragtigheid.
  • Wol produksie
    Lammers van ooie wat sub optimaal gevoer word tydens laat dragtigheid, sal nie hul genetiese potensiaal ten opsigte van wolproduksie kan bereik nie. Die lam se primêre wol follikels ontwikkel vroeër in dragtigheid as sekondêre follikels (Dag 60 tot 90 teenoor dag 90 tot geboorte). Primêre follikels produseer dikker vesels as sekondêre follikels. Goeie voeding tydens laat dragtigheid sal toename in sekondêre follikel ontwikkeling veroorsaak, en ‘n verlaging in mikron van die toekomstige vagte van die lam. Voeding affekteer die hoeveelheid follikels wat ontwikkel word tydens dragtigheid, en met geboorte is hierdie hoeveelheid vasgelê. Dit is dus onmoontlik om follikel verliese a.g.v. swak voeding tydens dragtigheid, met voeding later in die lewe van die lam reg te stel.
  • Reproduksie
    Optimale voeding van die ooi tydens laat dragtigheid sal verbeterde reproduksie potensiaal in die volgende dek tydperk veroorsaak, aangesien minder kondisie herwin moet word in die droë periode. Jong ooie afkomstig van ooie wat goeie ontvang het, sal ook verbeterde reproduksie toon met hul eerste dekking.

Laktasie:

Voeding tydens laktasie is belangrik om maksimale melkproduksie te verseker, sodat die ooi se lam/lammers hul genetiese potensiaal i.t.v. groei en wol produksie kan bereik. Optimale voeding tydens hierdie tydperk is verder belangrik om oormatige gewigsverlies van die ooi te voorkom. Beperking van massaverlies tydens laktasie sal verbeterde reproduksie met die volgende dek tyd verseker, asook verbeterde ontwikkeling van primêre follikels van die fetus tydens daardie dekking veroorsaak. Laastens sal die ooi se hitte siklus in die volgende paar seisoen vertraag word met oormatige gewigsverlies tydens laktasie. Toelaatbare gewigsverlies tydens laktasie:

Jong ooie met enkelinge – 2%
Jong ooie met tweelinge – 3%
Ooie met enkelinge – 4%
Ooie met tweelinge – 7%
Maksimum toelaatbaar – 10%

Akkerboukundige Oorsig:

Met aanplantings wat lank voor die reën gedoen is en saailinge wat nou eers uit die grond kruip, sit produsente met die belangrike besluit oor of die plantestand goed genoeg is. Ek gaan die besluit om canola oor te plant bespreek omdat dit die gewas is wat die meeste geraak word deur ‘n droë planttyd en laat opvolg reën

Canola aanpasbaarheid

In ‘n vorige oorsig is dit reeds genoem dat canola die vermoë het om die primêre en sekondêre halms te vermeerder om aan te pas by ‘n lae plantestand. Die volgende tabel verduidelik dit baie goed. Hoe meer plante in ‘n vierkantmeter(m2) is hoe meer van die opbrengs word op die hoof halm en primêre halms gedra. As die plantestand baie laag is word die plante groter en word meer van die opbrengs op die primêre en sekondêre halms gedra. In die veld het ek al ervaar dat op ‘n plantestand van 35 plante/m2 dat die plante gemiddeld 300 peule maak en waar daar slegs 3-5 plante is, die plant die vermoë het om tot 2000 peule te maak.