Veekundige Oorsig:

Nog ‘n maand is verby en die Suidelike Halfrond het nou behoorlik die herfs maande betree. Daglig lengte is nou opmerklik korter en temperature is aansienlik kouer as ‘n maand of twee gelede. Hierdie natuurlike veranderings in klimaat, soos die seisoene vorder, veroorsaak gevolglik dat meeste veeboere aanpassings moet maak, aangesien weidings toestande drasties kan varieer en verander gedurende hierdie tydperk.

Oor die SSK bedienings gebied is ruvoer beskikbaarheid tans baie wisselvallig. Daar is groot areas waar droogte toestande ervaar word, maar in ander areas het dit wel gereën en is genoegsame ruvoer beskikbaar. In hierdie oorsig gaan ek die verskillende basiese lekke wat vir die skaap boer beskikbaar is bespreek, asook hoe hulle aangewend kan word onder verskillende omstandighede in terme van ruvoer beskikbaarheid en kwaliteit.

Basiese Lek Opsies vir die Skaapboer:

Een van die belangrikste dinge om te onthou van ‘n lek: Dit is ‘n aanvulling, nie ‘n voer nie! ‘n Lek se doel is om die herkouer in staat te stel om beskikbare ruvoer optimaal te benut deur enige voedingstof tekorte wat voorkom in die ruvoer, aan te vul. Die doel van ‘n lek is nie om die ruvoer te verplaas nie. Die belangrikste voedingstowwe waarvan daar tekorte in ruvoer kan wees is: Energie, Proteïen, Minerale en Vitamiene, of ‘n kombinasie van hierdie voedingstowwe.

Herkouers ,soos skape, is afhanklik van mikrobiese vertering van ruvoere in hul spesiaal aangepaste spysvertering kanaal (spesifiek in die rumen), en kan sodoende veselryke voedings bronne benut wat nie deur enkel maag diere benut kan word nie. Mikrobiese vertering van ruvoere, asook proteïen geproduseer deur mikrobiese populasie groei, verskaf die herkouer van die nodige voedingstowwe om te oorleef en produseer. ‘n Tekort in ‘n ruvoer verwys na ‘n situasie waar mikrobiese vertering van die ruvoer alleen nie genoegsame mikrobiese vertering produkte en groei kan veroorsaak om aan die skaap se behoeftes te voldoen nie.

Diere se ouderdom en stadium van produksie het natuurlik ook ‘n effek op hul behoeftes in terme van voedingstowwe, dit is dus belangrik om te bepaal wat die beperkende voedingstof of voedingstowwe is vir ‘n spesifieke klas dier en spesifieke ruvoer, voor ‘n keuse ten opsigte van die geskikte lek vir die tydperk gemaak kan word.

Produserende diere se behoeftes aan voedingstowwe is uiteraard hoër as nie-produserende diere. Diere in verskillende stadiums van produksie se behoeftes kan soos volg opgesom word (indien geen voorafgaande kondisie of ander tekorte teenwoordig is):

  • Lakterende skape het ‘n hoë behoefte aan energie, proteïen en minerale.
  • Jong groeiende diere het ‘n matige behoefte aan energie, proteïen en minerale, maar kwaliteit van proteïen is belangrik.
  • Droë, dragtige diere het ‘n lae behoefte aan energie, proteïen en minerale

Weidings se tekorte in voedingstowwe kan deur ‘n groot verskeidenheid faktore beïnvloed word, insluitend seisoen, grond tipe, groei stadium van die plant, tipe weiding, en reënval (hoeveelheid en seisoen). In opsomming kan die volgende aannames gemaak word:

  • Fosfaat tekorte word in jong, groen, hoogs verteerbare weidings ervaar.
  • Proteïen (en tot ‘n mindere mate energie) tekorte op droë, volwasse weidings.
  • Mineraal en vitamien tekorte afhangend van mineraal status van die grond.

Indien die spesifieke tekorte geïdentifiseer is, kan ‘n keuse gemaak word sodat die regte lek vir daardie tydperk en dier voorsien word. Die basiese lek opsies wat ‘n boer sal teëkom by die voer handelaar is: Mineraal Lekke, Proteïen Lekke, Energie Lekke en Produksie lekke.

Mineraal Lekke:

Word oor die algemeen bemark as “Fosfaat lekke”, hierdie lekke bevat die makro-minerale Kalsium (12%), Fosfaat (6%), Magnesium, Swael en Kalium, asook die mikro-minerale Mangaan, Koper, Sink, Kobalt, Jodium, Yster en Selenium. Die hoof doel van hierdie lekke is optimale benutting van groen weidings, wat laag in fosfor is.

Innames is gewoonlik rondom 20-40 gram per skaap per dag.

Proteïen Lekke:

Bevat gewoonlik meer as 20% proteïen, ‘n energie komponent (~6.6MJ ME/kg), asook minerale. proteïen lekke word hoofsaaklik gebruik om droë, volwasse weidings wat nie baie verteerbaar is nie beter te benut. Daar kan verder onderskei word tussen proteïen lekke wat hoog is in ureum (>80% van proteïen is afkomstig van ureum) en lekke wat hoog is in natuurlike proteïen (<60% van proteïen is afkomstig van ureum). Lekke met ‘n hoër persentasie natuurlike proteïen is ‘n goeie opsie as byvoeding vir jong groeiende diere, of ooie in vroeg laktasie, waar ‘n behoefte na hoë kwaliteit proteïen ontstaan as gevolg van groei of die produksie van melk.

Innames is gewoonlik rondom 150-200 gram per skaap per dag.

Energie Lekke:

Energie lekke is laer in proteïen (15-16%), bevat hoër energie (~8MJ ME/kg) asook minerale. Indien weidings hoog in proteïen en stikstof en baie verteerbaar is (jong peul gewasse soos medics en lusern is goeie voorbeelde hiervan), kan ‘n energie tekort optimale benutting van die weiding beperk. In sulke situasies sal voorsiening van ‘n energie lek (verkieslik sonder nie-proteïen stikstof – NPN) ‘n goeie opsie wees om maksimale benutting van die proteïen in die weiding te maak. ‘n Energie lek wat NPN bevat is ideaal vir die benutting van ruvoere laag in energie en proteïen, soos mid tot laat seisoen stoppels.

Innames is gewoonlik rondom 200-500 gram per skaap per dag.

Produksie Tipe Lekke:

Produksie tipe lekke word gewoonlik voorsien aan produserende diere (groeiende lammers, lakterende ooie) wat nie toegang tot genoegsame goeie kwaliteit ruvoer het nie. Die lekke het ‘n hoë proteïen (>20%), hoë energie (~8MJ ME/kg) en nodige minerale. Dit is verkieslik dat produksie tipe lekke ‘n kleiner NPN komponent en ‘n groter natuurlike proteïen komponent bevat sodat spier groei of melk produksie so veel as moontlik gestimuleer word.

Innames is gewoonlik rondom 200-500 gram per skaap per dag.

Nie-proteïen Stikstof in Lekke:

Daar is in die voorafgaande gedeeltes genoem dat lekke variërende vlakke NPN kan bevat. Dit is baie belangrik om nodige voorsorg te tref wanneer NPN bronne aan diere gevoer word. Dit sluit in:

  • Pas diere geleidelik aan veranderings in hul rantsoen aan.
  • Maak seker ‘n oormaat van die bron word nie ingeneem nie (bv. as gevolg van sout tekorte).
  • NPN is oplosbaar in water en word gekonsentreer daarin. Maak dus seker water samel nie aan naby plekke waar dit gevoer word nie.

Akkerboukundige Oorsig:

Verstaan jou vooropkomsmiddels :

Elke jaar se plant toestande verskil met verskeie uitdagings vir die toediening van vooropkomsmiddels. Gaan die middels werk of gaan dit net bloot verlore voordat die gewasse opkom. Ek hoop die inligting wat ek nou gaan deel sal help met toekomste besluite, maar ook verduidelik hoe middels se werking beïnvloed word deur verskeie faktore.

Area van werking:

Meeste vooropkomsmiddels word geabsorbeer deur die wortels en die koleoptiel van die onkruide. Daarom is dit belangrik om te weet wat met die middels gebeur sodra dit toegedien word. Die volgende faktore bepaal dus die uitkoms:

  1. Water oplosbaarheid en binding aan organiese materiaal
  2. Grondvog en reënval
  3. Grondtipe en pH
  4. Temperatuur

1. Die beweging van ‘n produk in die grond wat deur twee van sy eie eienskappe bepaal word is die oplosbaarheid en die binding aan organiese materiaal. Die oplosbaarheid van die produk bepaal nie net hoeveel van dit in water kan oplos nie maar ook hoe beweegbaar dit is in die grond. Dit kan ‘n voordeel wees omdat die middel met minimale vog tot in die wortel sone sal kan beweeg of negatief omdat dit te diep kan loog en deur die aangeplante gewas opgeneem en beskadig kan word.

Die ander eienskap is binding. In die tabel hieronder kan daar gesien word hoe bind vooropkomsmiddel aan organiese materiaal. Hierdie binding kan beteken dat middels moeilik sal beweeg in die grond en ook oneffektief kan wees by hoë vlakke van stoppel bedekking. Die reël is dat ‘n middel effektief sal werk as daar meer as 50% grond sigbaar is.

Pre-emergent Herbicides 101, © WeedSmart’s Diversity Era

2. Grondvog en reënval. Soos reeds genoem by die eienskappe is vog nodig vir die middel om te beweeg tot by die punt van werking. Sien vog dan as die aktiveerder en draer van die middels.

3.Grondtipe en pH. Die eenvoudigste manier om te verduidelik is om sandgrond en kleigrond te vergelyk. Sandgrond het ‘n growwer tekstuur, met groter porieë en daarom kan min vog makliker deur dit beweeg. In kleigrond is die tekstuur fyner met kleiner porieë en beweeg vog moeiliker. Saam met die grondtipe kom die pH van die grond. Die pH maak dat middels minder of meer oplosbaar is. ‘n Voorbeeld is waar die Sulfonielureum meer oplosbaar raak by ‘n alkaliese pH en daarom makliker beweeg.

4. Temperatuur het ‘n indirekte invloed. As die temperatuur hoër is benodig die plant meer water en groei dit meer aktief en daarom word daar meer vooropkomsmiddel deur die wortels opgeneem.

Oorlewing van vooropkomsmiddels.

Vooropkomsmiddels het verskeie natuurlike faktore wat die oorlewing bepaal en die ideaal sal wees om nie te veel middel te vinnig te verloor nie. Terselfdertyd moet ‘n middel nie so lank aktief bly dat die opvolg gewas beskadig nie. Die skets toon al die natuurlike faktore wat ‘n effek op die oorlewing van die middels het.

South Dakota State University

Daar is 3 hoof vorms van afbreek nl.
1. Foto degradasie deur die sonlig.
2. Chemiese afbreek deur hidrolise
3. Mikrobiese afbreek

Vir hierdie prosesse om plaas te vind is vog, hoë grond temperatuur en hoë organiese materiaal baie belangrik.

  1. Foto degradasie deur die sonlig is een van die faktore wat deur die produsent tot ‘n mate beheer kan word deur te sorg dat daar goeie bedekking en inkorporering van die middel is tydens die plantproses.
  2. Chemiese afbreek het gewoonlik ‘n klein effek op die leeftyd van die middels en benodig ook vog om die proses aan die gang te sit.
  3. Mikrobiese afbreek is die belangrikste van die afbreek prosesse. Dit kan bewys word deur die grafiese voorstelling waar grond gesteriliseer word om te sien watter effek die natuur het op die leeftyd van ‘n vooropkomsmiddel, S-metolachlor. In die gesteriliseerde grond breek die middel baie vinniger af as in die gesteriliseerde grond en dit is a.g.v. die mikrobiese aktiwiteit.

Pre-emergent Herbicides 101, © WeedSmart’s Diversity Era

Mikrobiese afbreek van middels is hoër by:

  • hoë grond temperature
  • hoë organiese materiaal
  • hoë vog inhoud

Sien grafieke.

Soos die temperatuur styg so word die middels vinniger afgebreek.

Pre-emergent Herbicides 101, © WeedSmart’s Diversity Era

Hoë voginhoud in die grond versnel die mikrobiese afbreek. Totaal versadigde grond kan egter ook die afbreek stop omdat mikrobes nie kan funksioneer sonder suurstof nie.

Pre-emergent Herbicides 101, © WeedSmart’s Diversity Era

NB! Dit is belangrik om te besef dat die herhaaldelike gebruik van die selfde vooropkomsmiddel nie net onkruid weerstand laat ontstaan nie, maar dat die mikrobiese populasies toeneem wat slegs op die afbreek van hierdie middels voed. Hierdie populasie floreer en oorheers in die grond en sal veroorsaak dat die middels oneffektief raak omdat dit afgebreek word voor daar enige onkruid beheer kon plaasvind. Daarom is dit belangrik om middels af te wissel soveel as moontlik. In die volgende grafiek kan dit gesien word waar die afbreek van simazine baie vinniger is waar dit op ‘n jaarlikse basis gebruik word as waar dit nog nooit gebruik is nie.

Pre-emergent Herbicides 101, © WeedSmart’s Diversity Era

Daar is nog een faktor wat ‘n rol speel by die oorlewing van vooropkomsmiddels en dit is ’n eienskap van die produk om te vervlugtig. Produkte wat maklik vervlugtig, word geklassifiseer as produkte wat by 20 grade Celsius ‘n verdampings druk van groter as 1 mPa het. Dit is uiters belangrik dat hierdie middels geïnkorporeer word deur middel van reënval, besproeiing of bewerkings aktiwiteite soos deur die planters.

Pre-emergent Herbicides 101, © WeedSmart’s Diversity Era

Trifluralin is ‘n goeie voorbeeld van ‘n produk wat deur plante opgeneem word in die vorm van ‘n gas. Sou hierdie produk nie voldoende bedek word met grond nie sal die gas verlore gaan en geen werking plaasvind. Die grafiek vergelyk verskillende planter tegnieke wat ‘n effek het op die grond bedekking.


Pre-emergent Herbicides 101, © WeedSmart’s Diversity Era

Dit is dus belangrik dat produsente die vooropkomsmiddels se werking verstaan en weet watter faktore ‘n rol gaan speel in die effektiewe werking daarvan.