Goeiedag,

Ons is die Landboukundige span by Sentraal Suid Koöperasie. In ‘n nuwe inisiatief het ons dit goed gedink om op ‘n maandelikse basis sover moontlik ‘n kort oorsig oor landbou omstandighede in SSK se area, asook enige ander interessante en waardevolle inligting aan SSK lede deur te gee.

Hierdeur beoog ons om ‘n groter gedeelte van SSK se lede te bereik en ons bydrae tot die landbou in die area te vergroot.

SSK se landboukundige span bestaan uit Henk Schuurman (Veekundige) en Pieter Blom (Akkerboukundige), beide gebaseer by SSK se hoofkantoor op Swellendam.

Henk en Pieter werk onderskeidelik reeds 4 en 5 jaar by SSK in hul onderskeie kapasiteite.

Veekundige Oorsig:

Die afgelope maand was oor die algemeen gekenmerk deur goeie omstandighede vir lewende hawe boerdery, hoofsaaklik weens die goeie reëns wat in middel Januarie in die gebied ervaar is. Die weke daarna is gekenmerk deur warm, sonnige dae met kleiner reënbuie tussen in, wat vir goeie weidings toestande gesorg het.

Weidings gebaseerde melkerye het oor die algemeen goeie produksies ervaar a.g.v. die reën. ‘n Algemene tendens wat onder weidings boere ervaar is, is dat Melk Ureum Stikstof (MUN) gestyg het namate weidings verbeter het na reën. Ek sal in hierdie maand se skrywe ‘n kort inligtingstuk oor MUN insluit, aangesien heelwat produsente steeds onseker is oor die betekenis en nut daarvan.

Tans lyk die aanduidings vir die nabye toekoms taamlik positief vir die melkbedryf. Gerugte toon dat melk prys verhogings oor die algemeen verwag word, en indien die mielieprys aanhou afwaarts neig, behoort dit aan die voer koste kant ook verligting te bring.

Melk Ureum Stikstof:

Melk Ureum Stikstof (MUN) is die konsentrasie ureum stikstof in melk en word uitgedruk in milligram per deciliter. Die MUN lesing gee vir die boer die geleentheid om die benutting van proteïen in sy melk beeste se rantsoen te evalueer.

MUN lesings tussen 10 tot 16 mg/dl dui optimale benutting van proteïen in ‘n melkkudde aan.

Waardes kan verhoog indien:

  1. Oormaat rumen degradeerbare proteïen gevoer word.
  2. Oormaat rumen onder gradeerbare proteïen gevoer word.
  3. Rumendegradeerbare proteïen nie met energie gebalanseer is in die rantsoen nie.

Dus in kort:

Hoë MUN waardes:
Te veel proteïen word gevoer. Proteïen is duur, en dus kan daar moontlik geld gespaar word deur verminderde proteïen te voer. Verder word verhoogde MUN geassosieer met verlaagde reproduksie syfers, wat natuurlik ook tot nadeel van die melkery is.

Lae MUN waardes
Te min proteïen word in die rantsoen verskaf, wat ‘n verlaagde melkproduksie en melk inkomste veroorsaak.

Let wel dat bogenoemde maatstawwe dien as ‘n oorsig van MUN, en kan verskil na gelang van ‘n verskeidenheid van faktore, soos die ras van die koei, stadium van laktasie ens. Oorsake is dus nie altyd voor die hand liggend nie. Raadpleeg my dus as daar MUN probleme voorkom. Deur alle moontlike faktore in ag te neem kan die probleem dan effektief aangespreek word.

Akkerboukundige oorsig:

Die SSK area was tot dusver geseën gewees met goeie buite seisoen reënval. Dit kan beteken dat die produsente se voorplant chemiese rekening reeds baie hoog is. As ons egter verby die negatiewe kyk, het die somerreën wel ‘n positiewe effek op die volgende seisoen met die navorsing wat beweer dat tot 25% van hierdie reënval ‘n bydra kan maak aan ons 2020 produksie. Dit is egter nie net so eenvoudige berekening om te maak nie omdat daar verskeie faktore is wat bydra tot die stoor en verlies van water in die grond. Die belangrikste faktore is as volg:

  • Beskikbare water. Dit is die water wat vasgehou word deur die grond deeltjies nadat die vrye water gedreineer het, en voordat dit so min raak dat plante verwelk. In Engels staan dit bekend as “PAWC”(plant available water capacity). Hier speel die fisiese eienskappe van grond ‘n belangrike rol, met sanderige grond wat ‘n laer water houvermoë het as swaarder kleigrond, maar die kleigrond kan weer makliker vog verloor deur verdamping.
  • Stoppel bedekking. Graan stoppels van 15 tot 30cm hoog kan die verdamping van die grond met 11% en 27% onderskeidelik verlaag. Dit is nie net hoër stoppel wat vog bewaar nie maar ook meer tonne droë materiaal op elke hektaar wat ‘n totale oppervlak bedekking gee.
  • Somer opslag graan en onkruide. ‘n Studie wat in Wes-Australië gedoen is, het bevind dat somer onkruid 50mm tot 70mm van die grondvog kan gebruik. Afhangende van die somer reënval kan die onkruide die vog verwyder tot by die verwelk punt en sal in seisoen reënval nodig wees om water vlakke weer op te vul totdat dit weer vir plante beskikbaar is.
    Omdat ons nie veel aan die grond se samestelling kan verander nie is dit belangrik dat elke boer sorg dat daar so veel as moontlik stoppel op die lande gelos word en dat alle opslag graan en onkruide tydens hierdie periode beheer word. Die volgende reënval syfers en berekeninge wil ek gebruik om te toon wat is die waarde van die bewaring van buite seisoen reën en dat die hoë chemiese rekening nogsteeds terug betaal.

Die 25% oordrag van reën tussen Oktober tot Januarie lyk as volg vir die verskeie areas:

Protem 37mm
Swellendam 35mm
Karringmelks 33mm
Heidelberg 28mm
Riversdal 30mm
Albertinia 32mm

Daar word gewoonlik gewerk met ‘n 20kg graan geproduseer per hektaar vir elke mm reën ontvang. As ons dan met ‘n gemiddeld van 31mm werk, beteken dit dat daar 621 kg/ha graan se vog reeds in die grond gestoor is. Sou ons ‘n gemiddelde koring prys van R3800 gebruik en aanneem dat daar 3 tot 4 vooraf bespuitings teen waarde van R780 tot R1040 gedoen is, bly dit nog steeds die moeite werd om daardie kostes aan te gaan as jy R2360/ha se waarde in vog kan bewaar.