Bestuur van ooie tydens vroeë- en middragtigheid lê die grondslag vir reproduksie doeltreffendheid.

Voeding tydens laatdragtigheid en laktasie kry gewoonlik baie aandag aangesien dit twee baie belangrike fases in die produksiesiklus van die ooi is. Vroeë – en middragtigheid kry nie altyd die nodige aandag nie, aangesien dit baie keer beskou word as die periode wat die ooie slegs onderhou moet word en dus nie veel aandag verg nie. Die 2 periodes is egter uiters belangrik aangesien dit die fondasie lê vir die resultate wat met voeding tydens laatdragtigheid en laktasie verkry word.

Vroeë Dragtigheid

Vroeë dragtigheid word gedefinieer as die eerste 30 dae na bevrugting en word in twee fases verdeel. Die eerste 15 dae na bevrugting – pre-inplantering fase.  Die tweede 15 dae na bevrugting – inplantering fase. Embrioverliese gedurende die eerste maand na bevrugting kan tussen 15 – 30 % wees en selfs so hoog as 40 %. Jong-, meerling en maer ooie is die vatbaarste vir embrionale verliese. Dit is belangrik om enige stresvolle aktiwiteit gedurende die periode te vermy.

Indien ‘n ooi sou resorbeer voor dag 12 na bevrugting kom sy weer normaal op hitte en kan weer dragtig raak, maar sy lam laat. Die kans vir tweelinge is ook minder aangesien die ovulasietempo in die tweede siklus laer is. Indien die ooi na inplantering resorbeer (20 dae en later) kan sy weer op hitte kom en bevrug raak, maar die lammers is gewoonlik klein. Die rede hiervoor is dat die geresorbeerde embrio reeds vasgeheg was aan die baarmoederwand en die aanhegtingspunte is dus nie meer beskikbaar vir die nuwe embrio nie. Aangesien die aanhegtingspunte minder is gaan die plasenta swakker ontwikkel omdat minder voedingstowwe na die plasenta gekanaliseer kan word. ’n Kleiner plasenta het ‘n kleiner fetus tot gevolg.

Voeding en bestuur doelwit tydens vroeë dragtigheid

Die voeding doelwit vir die vroeë dragtigheid  periode is om die ooie in ‘n goeie kondisie te kry voor die aanvang van paartyd (kondisiepunt 3.5) en om gedurende die periode die liggaamsmassa van die ooi te handhaaf. Enige weiding waar daar genoegsame droëmateriaal beskikbaar is behoort met die korrekte onderhoudsaanvulling voldoende te wees. Ooie is baie gevoelig vir ‘n voeding wanbalans gedurende die periode – veral ‘n proteïen tekort en daarom is die aanvulling van proteïen op droëweiding baie belangrik.  Tydens wanvoeding – veral proteïen het 55% van ooie geresorbeer en uithongering tussen dag 9 & 14 van bevrugting het resorbsie by 71 % van die ooie veroorsaak.  Jongooie moet nog groei en in massa toeneem en dit word aanbeveel om hulle apart te paar op kampe met die beste weiding en met ekstra aanvullende voeding.

Die bestuur doelwit gedurende die periode moet die vermyding van onnodige hantering en enige stresvolle situasies wees. Die voorsiening van genoegsame water  sowel as skaduwee indien paartyd gedurende Februarie/Maart plaasvind is baie belangrik.

Middragtigheid

Middragtigheid  strek van af dag 30 na bevrugting tot dag 90. Gedurende die periode ontwikkel die fetus vinnig maar groei minimaal en bereik ongeveer 15 % van sy geboortemassa  ± 525 – 825 g vir ‘n eenling fetus en ± 450 – 525 g vir ‘n tweeling fetus. Die plasenta groei egter vinnig gedurende die periode vanaf 10% tot 100 % van finale massa ± 500 g vir eenlinge en ± 1 kg vir tweelinge terwyl die baarmoeder en baarmoeder vloeistowwe onderskeidelik 1 en 1.5 kg tot die totale massa van die bevrugtingsprodukte bydrae.  Die totale massa van die bevrugtingsprodukte is dus ± 2 – 2.8 kg vir eenlinge en  ± 3.5  kg vir tweelinge.

Indien ‘n ooi dus haar liggaamsmassa handhaaf tydens middragtigheid het sy ongeveer 2 – 3.5 kg aan liggaamskondisie verloor. ‘n Dragtige ooi moet dus  ‘n gdt van 50 – 80 g handhaaf om haar liggaamskondisie konstant te hou. Jongooie moet nog in massa ook toeneem en daarom moet hulle ‘n gdt van 100 – 110g handhaaf.  Plasentagroei is meer sensitief vir voedingsbeperking tydens vroeë middragtigheid (dag 30 – 50). Die fetus is weer meer sensitief op ‘n later stadium ( dag 75 – 90). Indien die ooie maer is, is die sensitiewe stadium vir plasentagroei later (dag 75 – 90).

Dit is ook belangrik om te onthou dat jong-, meerling- en maer ooie gedurende vroeë middragtigheid (voor dag 60) die risiko van fetale verliese inhou. Stresvolle aktiwiteite gedurende die periode moet dus sover as moontlik vermy word. Skandering vind gewoonlik tydens die periode plaas en daarom moet ooie so rustig as moontlik gehanteer word en nie oor onnodige lang afstande aangejaag word nie en die kortste moontlike periode op kraal staan, veral as dit warm is.

Belang van plasenta ontwikkeling

Die grootte van die plasenta het ‘n groot invloed op die uiteindelike reproduksie prestasie van die ooi. Swak voedingstoestande gedurende middragtigheid het ‘n kleiner plasenta tot gevolg en ‘n groot persentasie van vrektes wat tydens of kort na geboorte voorkom, kan toegeskryf word aan swak plasenta ontwikkeling. Goeie voeding in laatdragtigheid kan nie kompenseer vir swak voeding tydens middragtigheid nie. Indien die plasenta nie behoorlik ontwikkel is nie kan die fetus nie deel in die ekstra voedingstowwe gedurende laat dragtigheid nie.

Die plasenta produseer ook hormone wat noodsaaklik vir die ontwikkeling van die uier. ‘n Vyf en twintig persent afname is gevind by ooie wat voor dag 100 ondervoed is en ad lib. voeding tydens laatdragtigheid ont vang het. Plasentale hormone speel ook ‘n belangrike rol by moeder eienskappe. Daar bestaan ook ‘n liniêre verwantskap tussen verandering in kondisie tydens middragtigheid en die gehalte (veseldikte) en hoeveelheid wol wat deur die ooi se nageslag geproduseer word. Navorsing toon dat ‘n 100 g toename in plasentamassa, geboortemassa met ± 560 g verhoog.

‘n Swak ontwikkelde of kleiner plasenta veroorsaak by Lammers ; hoër embrio & fetale verliese, vroeggebore lammers, lae geboorte massa en swak lewensvatbaarheid, omdat die fetus nie tot sy volle potensiaal kon ontwikkel nie. By Ooie veroorsaak ‘ n swak ontwikkelde plasenta; ‘n kleiner uier, vertraagde- & swak biesproduksie, laer melkproduksie en swak moeder eienskappe, omdat die plasenta minder hormone produseer wat uier ontwikkeling en die ontwikkeling van moeder eienskappe stimuleer. Kondisie met paring en ouderdom van die ooi speel ook ‘n rol by die grootte van die plasenta.  Jongooie se plasentas is kleiner as die van volwasse ooie.

Indien daar dus ten spyte van voldoende voeding tydens laatdragtigheid; baie klein enkeling lammers is, die ooie onwillig is om lammers te laat suip en die ooie traag is om te sak, is ‘n onderontwikkelde plasenta as gevolg van onvoldoende voeding tydens middragtigheid  of swak kondisie met paring waarskynlik die oorsaak.

Ander faktore wat plasenta ontwikkeling beïenvloed

Temperatuur

Navorsers meen hittestres het selfs ‘n groter effek op plasenta ontwikkeling as voeding

Hittestres kan plasenta ontwikkeling & fetusmassa met tot 50 % verminder.

Lammers van ooie wat oor die warm somermaande middragtig was se lammers was 16 % ligter as die van ooie wat oor dieselfde tydperk by koeler temperature aangehou is. Ooie wat aan 27 en 42 ?C onderskeidelik tydens middragtigheid blootgestel was, se plasentas het onderskeidelik 546 g en 387 g geweeg en die lammers 3.9 en 2.9 kg met geboorte.

Aantal Fetusse

Meerling fetusse het gewoonlik klein plasentas as gevolg van oorbevolking in die uterus.

Ouderdom

Jongooie het kleiner plasentas as ouer ooie.

Ouderdom saam met kondisie tydens paring speel ‘n belangrike rol by plasenta ontwikkeling.

By ouer ooie kan ‘n mate van kompensatoriese groei plaasvind.

By jongooie is kompensatoriese groei  beperk – veral as hul paringsmassa laag was.

Kondisie & Liggaamsmassa

Die massa wat die ooi op dag 100 bereik is bepalend by lamoorlewing.

Een en veertig  tot nege en vyftig persent van die variasie tussen plase in lammortaliteit kan verklaar word deur die massa van die ooi op dag 100.

Vir elke kg toename in 100 dae massa van die ooi het lamvrektes  van enkeling lammers met 0.7 en tweeling lammers met 2.2 lammers per 100 lammers afgeneem, terwyl wolproduksie met 0.04 kg/ooi gestyg het.

Voeding doelwit tydens middragtigheid

Ooie moet in ‘n goeie kondisie gepaar word (Kondisiepunt 3.5). Handhaaf die kondisie tydens middragtigheid. Indien die ooi se massa konstant bly verloor sy in werklikheid kondisie aangesien die produkte van bevrugting in massa toeneem.  Oorvoeding moet egter ook vermy word aangesien dit kan aanleiding gee tot geboorte probleme soos domsiekte en te groot lammers.

Kondisie verlies van maksimum  0.3, toelaatbaar ( 2.1 – 3 kg) maar nie ideaal nie.

Die ooi se voedingsbehoefte is net hoër as onderhoud.

Eenling ooie moet minimum @ 50 g en tweeling ooie @ 80 g/dag in massa toeneem.

Jongooie moet minimum @ 100 g en tweeling ooie @ 110 g/dag in massa toeneem.

Navorsing van Dr. Ters Brandt toon dat stoppellande met pitte, lusern- en medicweiding voldoen aan die voedingsbehoefte  van middragtige ooie.

Indien die benutting van beskikbare ruvoer nie na wense is nie moet aanvullings oorweeg word – veral waar droë ruvoer gebruik word.

Aanvulling

Groenweiding

Energie en fosfaat is gewoonlik die vernaamste voedingstof waaraan daar ‘n tekort is op groenweiding. Gebruik energieblok of op die minste ‘n fosfaatlek.

Volop droë weiding

Proteïen is die beperkende voedingstof op droëweiding. Gebruik enige proteïenlek of proteïenlekkonsentraat wat vir onderhoud aanbeveel word. Indien die droëweiding begin min raak gedurende die laat somer slaan oor na ‘n produksie lek.

Casper Swart
Veekundige | Landboudienste
Tel: +27 28 514 8789
Sel: +27 82 388 0029
Faks: +27 28 514 8903
E-pos: cswart@ssk.co.za
Web: www.ssk.co.za

 

BRONNE

Artikels van Dr. Jasper Coetzee