Lees meer hier oor wat ander lesers te sê het.
Deur AMELIA GENIS Landbouweekblad
11 Oktober 2013
Die landboubesigheid Tuinroete Agri Beperk (TRA) is nou deel van die Sentraal-Suid Koöperasie Beperk (SSK) se span.
TRA-aandeelhouers het gister daartoe ingestem dat SSK al die aandele in TRA bekom. Van die 74,1% van die aandeelhouers wat in persoon of by wyse van volmagte op ’n spesiale aandeelhouersvergadering teenwoordig was, het 98,7% ten gunste van dié skema gestem.
Die voorsitter van TRA, mnr. Marais Pienaar, sê dis ‘n baie voordelige transaksie vir alle TRA-aandeelhouers, die gebied se landbouprodusente, die maatskappy se personeel en die breër gemeenskappe rondom die 17 dorpe waar hul takke bedryf word. “Ons oogmerk was ook om die volhoubaarheid van die TRA-besigheid te verseker in ’n mededingende besigheidsomgewing met die klem op die langtermyn-welvaart van die landbouers in ons bedieningsgebied, gekombineer met waarde-ontsluiting aan aandeelhouers.”
Verhoogde omset
Volgens mnr. Erenst Pelser, hoof uitvoerende beampte van die SSK Groep, beteken die toevoeging van TRA as ’n volfiliaal van die SSK Groep dat die omset van die groep tot meer as R2 miljard per jaar sal verhoog en die groep se geografiese voetspoor van Robertson in die weste tot Plettenbergbaai in die ooste en van Mosselbaai in die suide tot Aberdeen in die noorde vergroot. “SSK het bewys dat die koöperatiewe model die primêre sakevorm is wat landbouers verkies. Met die koöperatiewe model as basis het SSK oor die jare reeds met groot sukses in verskeie maatskappye belê. Die toevoeging van TRA sal vir SSK se bestaande en toekomstige lede verskeie voordele inhou, byvoorbeeld die optimalisering (optimalisering) van koopkrag, stelsels en kundigheid,” het Pelser gesê.
Byskrif:
Die aandeelhouers van Tuinroete Agri (TRA), met sy hoofkantoor op Mosselbaai, het onlangs daartoe ingestem dat Sentraal-Suid Koöperasie (SSK) op Swellendam al die aandele in TRA koop. Van links is mnre. Michael Dippenaar (voorsitter van SSK), Erenst Pelser (hoof uitvoerende beampte van SSK), Marais Pienaar (voorsitter van Tuinroete Agri) en Jan Weys (besturende direkteur van Tuinroete Agri). Foto: VERSKAF