Canola-verbouing vereis redelike bestuursinsette om sukses te waarborg.

Omdat die canola saadjie baie klein is, beperkte reserwes het, sensitief is vir stresfaktore tydens ontkieming en opkoms, is saadbedvoorbereiding sekerlik die belangrikste bestuurspraktyk vir suksesvolle canola verbouing.

Daarby is canola aan die begin van die seisoen ‘n swak mededinger en kan maklik deur onkruid verdring word.

SAADBEDVOORBEREIDING EN LANDKEUSE

Canola moenie op gronde wat maklik versuip, brak is, ‘n lae pH, verdigtingslae het of wat tot toeslaan geneig is, gesaai word nie. Omdat Chemiese middels vir die beheer van breëblaaronkruide by canola steeds beperk is, moet kampe met erge breëblaarbesmettings liefs vermy word. Dié probleem kan oorkom word deur van triasien/cysure-bestande kultivars gebruik te maak.

Produsente moet egter ook net onthou dat canola net elke vier jaar op dieselfde land verbou kan word, weens die gevaar van swartstam.

Canola verkies ‘n ferm en gelyke saadbed met voldoende diepte vir maksimum wortelontwikkeling en penetrasie.

Enige rimpeleffek, soos dikwels by breë tande in los of sanderige grond, kan veroorsaak dat saaidiepte verskil wat tot oneweredige opkoms en uiteindelik ongelyke rypwording lei. ‘n Eg, roller of sleepyster kan dan gebruik word om ‘n ferm gelyke saadbed te verseker. Indien ‘n minimum bewerkingstelsel gevolg word, moet alle onkruide voor saai chemies beheer word.

VESTIGING

‘n Uniforme, vlak saaidiepte van so 12 mm tot 25 mm moet gehandhaaf word om ongelyke ontkieming en opkoms te verhoed. Wees egter ook versigtig om te diep te saai, aangesien dit ook lei tot laer opkoms, gepaardgaande met ‘n laer opbrengspotensiaal. ‘n Planter is natuurlik die ideaal omdat dieptebeheer beter is. Die gebruik van drukwiele verseker beter grond-saad kontak omdat die canola saadjie nie baie higroskopies is nie.

Almal het egter nie planters nie. Waar saad breedwerpig uitgestrooi word, kan dit toegemaak word met ‘n ligte eggie wat die saad nie te diep inwerk nie. Die gebruik van rollers lewer goeie resultate, maar word nie aanbeveel op gronde wat geneig is tot toeslaan of as lande baie nat is nie.

Alhoewel canola baie goed vir lae stande kompenseer is 40 – 70 plante/m2 die ideaal. Lae stande maak stadiger toe en ding swakker met onkruide mee. Saaidigtheid kan ongeveer 3,5 – 4 kg/ha wees. Saaidigtheid met planters kan selfs laer wees (2 – 2,5 kg/ha)

Die grootste probleem by canola is egter swak en ongelyke vestiging / opkoms. Ons kan alles reg doen met die voorbereiding en vestiging MAAR goeie grondvogtoestande is uiters noodsaaklik vir ‘n goeie canola plantestand.

GRONDSUURHEID

Canola is goed aangepas by ‘n grond pH (KCI) van tussen 5.5 tot 6.

BEMESTING (Stikstof)

Net soos by koring, moet reënval, wisselbou, grondtekstuur, koolstof-inhoud, plantdatum, bewerkingsmetode, vestigingsmetode en die opbrengsmikpunt in aanmerking geneem word by die bepaling van die stikstofbehoefte. Canola verwyder ongeveer 40 kg N/ton graan, waar koring ongeveer 27 kg N/ton graan verwyder.

TABEL 1: STIKSTOF BEMESTINGSRIGLYNE VIR CANOLA

Gebied en

Reënval

Opbrengs Potensiaal Kg N per ha vir canola na

Lusern*

Eenjarige peulgewas stelsel

Graanstoppel***

SUID KAAP (65 % winterreëns)

< 350 mm

1.25 t/ha

10

25 – 30

30 – 50

350 – 425 mm

1.5 t/ha

10 – 20

30 – 35

50 – 70

450 – 500 mm

2.0 t/ha

20 – 30

40 – 45

60 – 90

> 525 mm

2.5 t/ha

40 – 50

50 – 55

80 – 110

SWARTLAND (83 % winterreëns)

< 325 mm

1.25 t/ha

50 – 70**

70 – 90

325 – 425 mm

1.75 t/ha

70 – 90

90 – 110

> 425 mm

2.5 t/ha

90 – 110

110 – 130

* Lusern weiding waarin grasse beheer is.
** Hoër waarde van toepassing op ligter gronde.
*** Sluit minimum- en geenbewerking in.

 

  • Gebruik verkieslik nitraatgebaseerde stikstof. As ureum gebruik word, moet dit weg van die saad geplaas word.
  • Planter (gebandplaas by saad) – 20 N kg/ha met saai vir 25cm ry

– Skaal af na 15 – 18 vir wyer rye

  • Breedwerpig – nie minder as 30 N kg/ha met saai waar reënval < 350 mm maksimum van 40 kg/ha N met saai waar reënval > 350 mm

Die verdeling van stikstofbemesting van canola moet spesiale aandag kry. Oor die algemeen word twee bobemestings aanbeveel, afhangende van hoeveel in totaal gegee moet word. Die eerste bobemesting moet op 30 – 40 dae na opkoms geskied. Op swaarder gronde word aanbeveel dat ten minste ± 65 % van die bobemesting reeds op 30 dae na opkoms toegedien word. Op ligter gronde, wat geneig is om baie te loog, word twee gelyke bobemestings aanbeveel nl. op 30 dae na opkoms en met die aanvang van stingelverlenging. Indien daar bo-normale reënval rondom 60 – 70 dae na opkoms voorkom, moet die tweede bobemesting dienooreenkomstig verhoog word. Waar kuilvoercanola verbou word, word aanbeveel dat 40 kg/ha N breedwerpig uitgestrooi word met saai of 20 kg N/ha gebandplaas en 50 tot 60 kg N / ha as bobemesting op 30 to 40 dae na opkoms.

As daar net een bobemesting gegee moet word, moet dit ongeveer 70 dae na opkoms gegee word. (By stamverlening).

BEMESTING (Fosfor)

‘n Grondwaarde van 36 mg/kg (sitroensuur) of 24 mg/kg (Bray 1) word as vertrekpunt geneem. By laer of hoër grondontledings word aanpassings gemaak met inagneming van faktore wat opbrengspotensiaal bepaal (Tabel 2).

TABEL 2 : FOSFOR BEMESTINGSRIGLYNE VIR CANOLA
 

Fosfor status van die grond (mg/kg)

 

P bemesting* (kg P/ha)

Sitroensuur

Bray 1

10

6

30

20

14

24

30

20

18

40

28

15

50 +

34 +

10 (onderhoud)

 

* Pas opwaarts aan vir hoë klipfraksie

BEMESTING (Kalium)

As riglyn word die kaliuminhoud van grond op ongeveer 80 mg/kg vir swaarder en 60 mg/kg vir liggetekstuurde grond gestel. By laer ontledings word kalium soos vir koring toegedien.

(Tabel 3). As kunsmis gebandplaas word, kan ‘n te hoë soutlading skade veroorsaak en word aanbeveel dat kalium breedwerpig as ‘n bobemesting uitgestrooi word.

TABEL 3 : KALIUM BEMESTINGSRIGLYNE VOLGENS GRONDONTLEDING (Sitroensuur of Bray 1, mg/kg)
Swaargetekstuurde Gronde Liggetekstuurde Gronde

Kalium (mg/kg)

K-bemesting kg/ha*

Kalium (mg/kg)

K-bemesting kg/ha*

< 50

30

< 50

30

50 – 80

20

50 – 80

15

> 80

0 – 20

> 80

0

* Pas opwaarts aan vir hoë klipfraksie

BEMESTING (Swawel)

Die swawelbehoefte van canola is ongeveer viermaal meer as dié van koring. Spesiale aandag sal dus aan die bemestingsprogram gegee moet word wat betref swawel. Daar word algemeen aanvaar dat die swawel behoefte van canola 15 tot 20 kg S/ha per ton opbrengs per jaar is. Vir swawel aanvulling by canola, kan die riglyne in Tabel 4 gebruik word. Die tyd van monsterneming is belangrik (kort voor plant), aangesien die S-inhoud van gronde dikwels wissel gedurende die seisoen. Die koolstof inhoud gee ‘n redelike goeie aanduiding van die swawelstatus van gronde. Met waardes < 1 % wat dui op moontlike sub-optimale vlakke.

Swawel moet verkieslik in kombinasie met stikstof met vestiging, asook tydens bobemesting gedurende die seisoen toegedien word. Laasgenoemde is veral belangrik by liggetekstuurde gronde met ‘n koolstofinhoud van < 1 %

Op gronde met ‘n geskiedenis van gebrekkige swawel-inhoud, sal ‘n toediening van 300 kg/ha gips voorsaai, bo-op of net vlak ingewerk, in die meeste gevalle voldoende wees. Dit is belangrik om te weet dat plante slegs swawel in die wateroplosbare sulfaatvorm kan opneem.

TABEL 4 : RIGLYNE VIR SWAWEL BEMESTING VOLGENS SWAWELINHOUD VAN GRONDE

Sulfaat S mg/kg in grond

Interpretasie vir bemestingsaanbeveling

< 6

Gebrekkig : S toediening hoër as spesifieke gewasbehoefte

(> 15 – 20 kg S/ha)

7 – 12

Voldoende : S toediening teen instandhoudingspeil

(15 kg S/ha)

> 12

Meer as voldoende : S toediening minder as instandhoudingspeil (10 kg S/ha)

Ander plantvoedingstowwe

Canola is gevoelig vir boor- en molibdeen tekorte, veral waar molibdeentekorte met ‘n lae pH gepaardgaan. Tekorte kan opgehef word deur die toediening van natriummolibdaat (150 g/ha vir blaarbespuitings) en solubor (1 kg/ha vir blaarbespuitings). Die praktyk van saadbehandeling met molibdeen word nie aanbeveel nie, aangesien daar dikwels nie genoegsame molibdeen met hierdie metode toegedien word nie. Die toediening van boor as ‘n grondtoediening in die canolajaar word nie aanbeveel nie, aangesien dit die ontkieming van sade kan belemmer. Die koper, sink en mangaan behoefte is hoër as vir koring.

Grondontledingsnorme vir spoorelemente

TABEL 5 : DIE GRONDONTLEDINGSNORME VIR SPOORELEMENTE WAT TANS VIR CANOLA GEBRUIK WORD, IS AS VOLG:

(dpm of mg per kilogram, EDTA oplosbaar)

Element

Gebrekkig

Laag

Voldoende

Koper

0.3

0.3 – 0.5

0.5

Sink

0.3

0.3 – 0.5

0.5

Mangaan

2 – 5

5 – 25

25

Boor (warm water)

0.2 – 0.3

0.3 – 0.5

0.5

Sekere faktore soos grondtekstuur, pH, bekalking, loging, hoë koolstofinhoud en grondkleur kan dikwels gebruik word as indikasie vir moontlike tekorte. By hoër potensiaal gronde word die groter syfer gebruik.

Blaar ontledingsnorme

N > 3 – 5 % Voldoende

K > 2.2 % Voldoende

P > 0.3 – 0.6 % Voldoende

Ca > 1.4 – 3.0 % Voldoende

Mg > 0.2 – 0.6 % Voldoende

Na > 0.03 – 0.5 % Voldoende

S < 0.5 Marginaal

> 0.5 – 0.8 % Voldoende

Cu > 3 – 5 mg/kg Normaal

Zn > 20 mg/kg Voldoende

Mn > 30 – 200 mg/kg Normaal

B > 20 – 50 mg/kg Normaal

Mo > 0.25 – 0.5 mg/kg Voldoende


Aanvulling van spoorelemente

Spoorelement aanvulling is nodig wanneer grond “laag” of “gebrekkig” ontleed. Tekorte aan spoorelemente kan aangevul word deur blaarbespuitings of grondtoediening. Grond toedienings se nawerking is gewoonlik baie langer as die van blaarbespuitings. In kalkryke gronde met hoë pH, word mangaan in die grond ontoeganklik vir plante en sal dit as blaarbespuiting toegedien moet word. Belangrike aspekte wat in gedagte gehou moet word vir die suksesvolle aanvulling van spoorelemente is:

  • Tekorte moet reg geïdentifiseer word.
  • Plante moet aktief groei en die blaaroppervlakte moet voldoende wees.
  • Plante moet droog wees en dit moenie baie warm wees tydens aanvulling nie.
  • Ten minste 2 – 3 uur tyd moet verloop na blaarbespuiting voor reën of besproeiing vir voldoende opname deur die plant.
  • Kom spesifikasies van die vervaardigers deeglik na om sukses te verseker.
  • Spoorelemente moet nie met onkruiddoders gemeng word nie.
  • Waar mengsels van spoorelemente gebruik word, moet die laer dosisse van die verskillende elemente gebruik word ten einde ‘n te hoë soutlading te voorkom, wat blaarskroei kan veroorsaak.
TABEL 6 : AANBEVELINGS VIR CANOLA
Spoorelemente Blaarbespuiting

500 liter water per hektaar

Grondtoediening

Kg per hektaar

Sink (Zn) 1 – 2 kg sinkoksied 3,5 – 7 kg sinkoksied
Mangaan (Mn) 2 – 4 kg mangaansulfaat Ondoeltreffend
Boor (B) 2 – 4 kg boraks of 0,5 – 1,0 kg solubor Word nie aanbeveel.
Koper (Cu) 1 – 1,5 kg koperoksichloried 2,5 – 5,0 kg koperoksichloried (wees versigtig op sandgronde)
Molibdeen (Mo) 100 – 150 g natrium of ammoniummolibdaat 250 – 500 g natrium of ammoniummolibdaat

Behoorlike benatting van die plant is baie belangrik vir die beste resultate, m.a.w. gebruik die aanbevole hoeveelheid water indien moontlik.

INSEKBEHEER

  • Die nadelige effek wat rooibeensandmyt op ‘n canola stand het, word dikwels onderskat. Gereelde inspeksies is altyd nodig om jouself te vergewis van wat aangaan.
  • Geen definitiewe drumpelwaardes beskikbaar In SA nie. Gebruik maar Australiese riglyne.
  • Beveel definitief ‘n saadbehandeling aan – 300 ml Dimetoaat/ 50 kg saad. Dan word ‘n opvolgbespuiting ongeveer 2 weke later aanbeveel.
  • Nog ‘n middel wat in Kanada / Amerika / Australië gebruik word, is Gaucho(Imidaklopried-350g/l @ 700 ml / 100 kg saad).
  • Let wel: Geeneen van bg. middels is in Suid-Afrika geregistreer nie.

ONKRUIDBEHEER

Die volgende middels is geregistreer vir gebruik op canola:

Produk Aktiewe bestanddeel Konsentrasie
Butisan S Metazachlor

500 g / liter

Agil Propaquizafop

100 g / liter

Co-Pilot Kwisalofop – P – Etiel

100 g / liter

Pantera Kwisalofop – P – Tefuriel

40 g / liter

Lomex 75 DF Etametsulfuronmetiel

750 g / kg

Kerb 500 WP Propisamied

500 g / kg

Cysure Imasamoks

40 g / liter

Crew/Triflurex Dinitroanalien

480 g ./ liter

Aramo Tepraloksidim

50 g / liter

Simazol/Simanex Simasien

500 g / liter

Galant super Haloxyfop-R-Metiel Ester

108 g / liter

Tylsimex Terbutilasien/Simasien

287 g / liter & 213 g /liter

Lontrel Klopiralied

100g / liter

Atranex 90 WG Atrasien

900 g / kg

SWAMSIEKTES

  • Belangrikste swamsiekte wat werklik ekonomiese skade kan aanrig, is swartstam.
    Alle kultivars wat aangeplant word, het egter weerstand teen swartstam.
  • Dit is hoekom ‘n 4 jaar rotasie voorgestel word.
  • Geen chemiese beheer teen swartstam.
  • Swartstam is ook saadgedraagde siekte. Dis hoekom daar aanbeveel word dat geen saad teruggehou moet word nie.

Bemestingsriglyne is verkry uit: Bemestingsriglyne vir Canola – D Hanekom & H Agenbag

JANNIE BRUWER

AKKERBOUKUNDIGE