Wanneer canola gevestig word, is dit belangrik dat alle saad in vogtige grond gesaai word vir eweredige ontkieming.
As bogenoemde nie gedoen word nie,kanontkieming oneweredig wees, wat weer tot gevolg het dat rypwording ook onegalig is en die oesproses bemoeilik word. Die korrekte oestegnieke sal verseker dat oesverliese beperk word en die beste kwaliteit produk gelewer word.
‘n Vraag wat baie produsente vra is: “Moet ek direk stroop of platsny?” Elke produsent moet maar self besluit watter oesproses hy gaan volg. Die beskikbaarheid van implemente speel ook ‘n groot rol in besluitneming. Die hedendaagse kultivars word geteel om meer pitvas te wees sodat dit ook direk gestroop kan word.
Platsny en dors van canola
Waarom platsny? Platsny veroorsaak dat 8 tot 10 dae vroeër geoes kan word, omdat saad eweredig ryp raak. By platgesnyde canola droog die peule en saad ook vinniger as staande canola. Platsny is veral belangrik waar lande onegalig ryp raak. Platgesnyde canola is ook minder gevoelig vir wind-, reën en hael skade in vergelyking met staande canola. Die vraag ontstaan onmiddellik wanneer die regte tyd vir platsny is. Vervolgens ‘n paar riglyne waarvolgens die ideale platsny-stadium vir canola bepaal kan word.
Die ideale tyd vir platsny is wanneer die saad 40 tot 70 % verkleur het (sien foto’s) en ‘n voginhoud van 30 tot 40% het. Persoonlik verkies ek ‘n saadverkleuring van ± 50 to 55 %. In warmer droër gebiede is dit beter om canola plat te sny wanneer die saadverkleuring tussen 50 tot 60 % is. Die rede hiervoor is dat warmer temperature die windry te vinnig laat afdroog en die sade nie ten volle tot volwassenheid ontwikkel nie en groen pitte (hoë chlorofiel-inhoud) tot gevolg het. Die olie-inhoud en kwaliteit (groen kleur) kan ook laer wees. Om die saadkleurverandering te bepaal, moet monsters van 100 peule of meer versamel word, wat verteenwoordigend van die hele land is. Saadrypwording begin aan die onderkant van die plant, m.a.w. peule moet aan die onderkant, middel en bokant van die plant aan die hoofhalm gepluk word om die rypheid te bepaal.
Die sade moet teen ‘n wit agtergrond gehou word om die saadkleurverandering waar te neem. Sade wat van groen na geel, bruin of swart verkleur kan getel word. Normaalweg is die onderste derde se sade hoofsaaklik donkerbruin tot swart van kleur. Die middelste derde se kleur wissel tussen geel en ligte bruin. Die boonste derde se sade is groen van kleur, maar is reeds ferm as dit tussen die duim en wysvinger gerol word. Die eerste monsters behoort vanaf ongeveer 15 dae na einde blom geneem te word om die ideale platsny datum te bepaal.
(Die einde van blom word gedefinieer as die punt wanneer 10 % van plante nog blomme aan het of waar daar net ‘n liggeel skynsel gewaar kan word).
Erkenning aan Departement van Landbou Wes-Australië vir gebruik van foto.
Daar behoort elke dag monsters geneem te word, want wanneer saad ferm is, kan dit binne 24 uur verkleur. Die klimaat het egter ‘n invloed op die kleurverandering.
Verkleuring vind vinnig plaas as dit warm en droog is en stadiger as dit koel en vogtig is. Onder veldtoestande is gevind dat die saad as volg per dag kan verkleur by temperature van:
20°C – 24°C – 3 tot 4 % saadverkleuring per dag
24°C – 27 °C – 4 tot 6 % saadverkleuring per dag
27°C – 30°C – 7 tot 8 % saadverkleuring per dag
Platsny by die optimum stadium sal maksimum olie-inhoud en minimum verliese verseker. Wanneer te vroeg platgesny word,kansaadgrootte, olie-inhoud en opbrengs nadelig beïnvloed word. Wanneer canola vier tot vyf dae te vroeg platgesny word,kanopbrengsverliese so hoog as 10 % wees. Nog ‘n verdere nadeel van te vroeg platsny is dat sade nie volwasse raak nie en groen pitte (chlorofil) tot gevolg het. Dit speel ‘n rol in gradering. (Wanneer die sade stukkend gerol word, het die sade ‘n groen kleur). Om verliese van te laat platsny te beperk, kan platsny gedurende die nag of wanneer die humiditeit hoog is na reën of dou gedoen word. Canola is slegs vir drie of vier dae ideaal vir platsny. Dié periode is ongeveer 21 – 25 dae na einde blom afhangende van die klimaat.
Snyhoogte moet bo die vertakking van die plant wees, sodat die staande stoppel ‘n mik vorm, waarin die windrykanlê. Dit keer dat die windry te diep in die stoppel wegsak. Deur die windry so te anker, word beter lugvloei verseker en die canola droog vinniger af. ‘n Ideale snyhoogte vir canola is 35 to 45 cm afhangende van die digtheid en hoogte van die gewas. Afhangende van die klimaatkancanola ongeveer 7 – 12 dae na platsny geoes word.
Wanneer geoes word, gebruik die instelling vir raapsaad. Die drom- en windspoed word tot ongeveer die helfte tot twee-derdes van koring gestel. ‘n Te hoë dromspoed slaan die canola pitte stukkend.
Wanneer canola gestroop word nadat dit platgesny is, moet die opteller so horisontaal as moontlik gestel word, sodat die windry so min moontlik versteur word. Probeer die opteller en die grondspoed van die stroper dieselfde hou. Platgesnyde canola moet verkieslik van die peulkant opgetel word.
Aangesien canola maklik uit die peul gedors word en dus nie ‘n hoë wrywingsaksie verg nie, moet die konkaaf drie tot vier verstellings wyer as by kleingrane gestel word.
Direk stroop van canola
Wanneer daar direk gestroop word en daar is groen dele, sny dit uit en oes eerder later as om te wag totdat alles ryp is en verliese te hoog is. Met staande canolakandaar gestroop word tot wanneer die Relatiewe Humiditeit (RH) tot 70 gedaal het. Indien dit egter baie warm en winderig word, wag tot later, sodat verliese beperk word. Begin weer wanneer die RH bokant 70 is. Canola kan gelewer word met ‘n voginhoud van tot 14%, mits drogingsfasiliteite beskikbaar is. Let egter daarop dat die voginhoud van canola verander met reën en ‘n verandering in RH. Toets dus gereeld vir die voginhoud.
Chemiese rypwording is ‘n alternatief vir platsny, veral waar die gewas omgeval het of waar onkruide laat in die seisoen ontkiem het. Die chemiese produk wat daarvoor in Australië geregistreer is, is Dikwat(Reglone). Goeie bedekking moet verkry word. Die stadium van bespuiting is ook belangrik. Dit is later as die platsnystadium. Die saadverkleuring moet tussen 80 tot 90 % wees. Die canola sal reg wees vir oes tussen vier tot sewe dae nadat die bespuiting gedoen is afhangende van die grootte en digtheid van die gewas. Bespuit net ‘n groot genoeg area wat binne een tot twee dae ge-oes kan word om verliese a.g.v.oopspring te verhoed.
JANNIE BRUWER
AKKERBOUKUNDIGE