Bolwurms (Helicoverpa armigera) kom wydverspreid voor en val bykans alle kommersiële-verboude gewasse aan.

Voordat ‘n besluit geneem word om bolwurm chemies te beheer, moet deeglike landinspeksies gedoen word.

LEWENSSIKLUS

EIERS

Die eiers is amper sferies van vorm en die sye buig na binne tot ‘n afgeplatte basis. Eiers word gewoonlik enkel gelê. As dit pas gelê is, het dit ‘n bleek, witterige geel kleur met ‘n glinsterende voorkoms as gevolg van ‘n dun lagie uitskeiding wat dit stewiger aan die gasheerplant laat vaskleef.

Namate die eiers ontwikkel, word dit donkerder van kleur.

Afhangende van die temperatuur sal eiers binne 3 – 7 dae uitbroei.

LARWE

Daar is ses instars (stadium van ontwikkeling). Die lengte van die eerste instar larwe is 2,2 mm tot 3,8 mm. Die laaste instar larwe is 33 tot 38 mm lank.

Die kleur van die verskillende larwe stadiums kan aansienlik van mekaar verskil. Pas nadat die larwe uitgebroei het, is die mees algemene kleur rokerig wit, maar nadat dit gevreet het, verander dit na witterig-geel en later gelerig-bruin. Die tweede instar se mees algemene kleur varieer tussen gelerig-bruin en baksteenrooi, terwyl die van volgroeide larwes van groen tot geel-pienk tot rooierig-bruin en bruin tot swart kan varieer. Volgroeide larwes kan strepe of spikkels hê of heeltemal daarsonder wees.

Die larwe bereik volwassenheid na 10 – 80 dae afhangende van die temperatuur.

PAPIE

Die papie is bruin van kleur wanneer dit pas gevorm is. Die papiestadium kan so kort as 15 dae duur in midsomer, maar duur langer soos wat temperature daal.

MOTTE

Die kleur van die voorvlerke van die volwasse mot varieer tussen bruin, geelbruin en grysbruin met twee duidelike donker kolle. Die agtervlerke is bleek tot gryswit van kleur met prominente donker gekleurde are. Die punte van beide voor- en agtervlerke is donkerbruin gekleurd.

TYDSDUUR VAN LEWENSIKLUS IN LENTE (GEMIDDELDE TYE)

Eier – 5 dae

Larwe – 24 dae

Papie – 18 dae

Mot – 3 dae (begin eierlegging)

Totaal – 50 dae

DRUMPELWAARDE

1 ton potensiaal 1 wurm per 16 are

2 ton potensiaal 1 wurm per 32 are

3 ton potensiaal 1 wurm per 48 are

Ongeveer 4 – 5 wurms per vierkante meter.

Kleiner bolwurmlarwes is makliker om te beheer.

(3 – 13 mm / 5 dae oud)

Verseker goeie bedekking.

Meer en meer gevalle kom voor waar piretroiedes nie meer werk nie. Gebruik produkte met ‘n ander meganisme van werking.